Ernie Els oorweeg om sy golfskedule te beperk om meer tyd saam met sy gesin deur te bring.
“Dit raak al hoe erger ná 25 seisoene as ʼn professionele speler,” het die 44-jarige Els gesê.
Els het reeds die afgelope paar jaar aan minder toernooie deelgeneem.
Hy het in 1989 professioneel begin speel. “My dogter Samantha is nou 14 jaar oud en my seun Ben is 11 jaar oud. Daar is nou ander dinge wat saak maak,” het hy gesê. “Dit was nog altyd moeilik om weg te gaan van die huis af, maar as mens sien hoe jou kinders groot word, is dit nog moeiliker.”
“Gesinslewe is belangrik en mens wil nie jou kinders se beste tyd mis voordat hulle uit die huis uit gaan nie.”