Ernie nog lank nie oor die muur

Ernie Els. Foto: (AP Photo/Amr Nabil)

Daar is nog baie skop oor in Suid-Afrika se gholflegende Ernie Els.

Die 52-jarige Els het Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) sy derde ronde van die Amerikaanse Ope vir seniors wat by die Saucon Valley-buiteklub in Bethlehem, Pennsylvania in die VSA gespeel word, in 67 houe voltooi en blaas in die voorlopers se nekke.

Maar Els (209 houe, -4) is sewe houe agter die voorloper, die 50-jarige Padraig Harrington van Ierland (202, -11), wat die derde ronde in 66 houe voltooi het.

Harrington word gevolg deur die Amerikaners Bob Labritz en Gene Sauers (albei 207, -6) met Els in die vierde posisie.

Volgens die Golf Channel het Els gesê dat hy 63 houe in Sondagaand se laaste ronde moet aanteken om Harrington in te haal.

Suid-Afrika se Retief Goosen is buite die wedloop in die 34ste posisie op 217 (+4).

James Kingston is gesamentlik in die 62ste plek op 223, tien houe oor baansfyer.

* Die Amerikaner Xander Schauffele (193, -17) is steeds die voorloper ná die derde ronde van die Travelers-kampioenskap wat by TPC River Highlands in Cromwell, Connecticut gespeel word en deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Maar Schauffele se voorsprong van vyf houe het tot slegs een hou gekrimp.

Sy landgenoot Patrick Cantlay (194, -16) blaas in sy nek met Sahith Theegale van Amerika, ʼn verdere twee houe terug op 196.

Scottie Scheffler, die wêreld se voorste speler op die gholfranglys, is op 200 houe (-10), met die Noord-Ier Rory Mcllroy op 204 (-6)

Nie een Suid-Afrikaner kon vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie.

* In München in Duitsland het Suid-Afrika se Louis Oosthuizen sy spiere gebult nadat hy 65 houe in die derde ronde van die BMW-toernooi aangeteken het, wat op die München Eichenreid-baan beslis word en deel is van die Europese reeks.

Die Chinees Hautong Li is op 196 houe (-20) drie houe voor die Belg Thomas Pieters (199, -17) gevolg deur Jordan Smith van Engeland (200, -16) met die Nieu-Seelander Ryan Fox en die Nederlander Darius van Driel albei op 201 (-15).

Oosthuizen is tiende (204, -12) gevolg deur Daniel van Tonder en Wilco Nienaber (albei 205, -11), Brandon Stone (206) en George Coetzee, Dean Burmester en Zander Lombard (almal op 208).

* In die Amerikaanse PGA vir vroue is In-Gee Chun van Korea (209, -8) die voorloper ná die derde ronde van die toernooi wat by die Congressional-buiteklub in Bethesda, Maryland, gespeel word.

Sy word gevolg deur twee van haar landgenote Sei-Young Kim en Hye-Jin Choi, en Lexi Thomson van Amerika (almal op 211, -5).

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai en Paula Reto (albei 217, +1) ding ook mee om die ongelooflike totale prysgeld van sowat R142 miljoen.

Buhai het 74 houe in die derde ronde aangeteken en Reto, wat onder aan die voorlopersbord was, het haarself reggeruk en 70 houe gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.