Frittelli lei SA aanslag by Britse Ope

Dylan Frittelli. Foto: Michael Sherman.

Suid-Afrika se Dylan Frittelli het ’n openingsronde van 68 (drie houe onder die baansyfer) gespeel om in die gesamentlike derde plek te wees by die Britse Ope in Noord-Ierland.

Frittelli is die top‑Suid-Afrikaanse speler op die telbord en is twee houe agter Amerika se JB Holmes wat ’n komkommerkoel ronde van 66 gespeel het. Frittelli deel die derde plek met 13 ander spelers, waaronder die wêreld‑nommereen, Brooks Koepka.

Die 29-jarige Suid-Afrikaner het sy ronde begin met sewe agtereenvolgende gelyk-aan-baansyfer-probeerslae. Hy het egter voëltjies op die 11de, 12de en 15de putjies gesink.

Branden Grace en Erik van Rooyen het die tweede beste onder die SA spelers gevaar en lê gesamentlik in die 20ste plek te danke aan hul rondes van 70 (een hou onder die baansyfer).

Die driemanskap van Louis Oosthuizen, Zander Lombard en Ernie Els was gelyk aan die baansyfer met hul rondes van 71 houe. Hulle is in die gesamentlike 42ste plek.

Brandon Stone (+1) is in die 55ste plek, Shaun Norris (+2) in die 72ste plek en Christiaan Bezuidenhout (+3) in die 94ste plek.

Richard Sterne het die swakste onder die Suid-Afrikaners gevaar en sy ronde van 78 (+7) beteken dat hy 144ste is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.