Garcia skud sy derderonde-spook af

Sergio Garcia het die derderonde-spook van 13 Meesterstoernooie afgeskud toe hy Saterdag die derde ronde op Augusta in 70 houe, twee onder syfer, voltooi het.

Hy loop saam met Justin Rose op 210, ses houe minder as syfer, voor met nog agt spelers wat op 215 steeds ʼn wenkans het.

Garcia het in sy vorige 13 Meesterstoernooie ʼn gemiddelde van 75 per derde ronde, oftewel drie houe oor syfer, gespeel. Hy is tot dusver die enigste speler wat in elke ronde van die huidige toernooi beter as syfer gespeel het.

Die voorloper in die eerste twee rondes, Charley Hoffman, het Saterdag op die kort 16de putjie in die water beland en twee houe ingeboet, wat hom sy voorsprong gekos het.

Rose het die derde ronde in vyf houe minder as syfer voltooi om in die gesamentlike eerste plek op dag vier te wees, en Jordan Spieth het met vier-onder sy kans aansienlik verstewig. Hy is nou net twee houe agter die voorlopers.

♦  Charl Schwartzel was die enigste Suid-Afrikaner wat kon hond haaraf maak. Hy het met sy rondetelling van 68, vier-onder, nader aan die voorlopers geskuif en is op 214 glad nie uit die prentjie uit nie.

Dit sal egter ʼn buitengewone ronde van hom kos om die toernooi te wen, omdat daar ʼn hele paar spelers is wat sal moet sukkel vir hom om hulle verby te steek.

Brendan Grace, wat 71 houe in die derde ronde gespeel het, is nou vyf houe onder baansyfer op 221. Louis Oosthuizen het vier-oor in die derde ronde gespeel en is agt houe oor syfer vir die toernooi terwyl Ernie Els Saterdag ʼn liederlike 11-oor in die derde ronde, insluitend drie dubbele brouhoue en net ʼn enkele voëltjie, aangeteken het.

Sy 14-oor vir die toernooi plaas hom laaste van die 53 kwalifiseerders.

Om volledige tellings oor die twee rondes te kry, klik op http://www.masters.com/en_US/scores/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.