Gary Player wéét wat 59 houe in gholf beteken

Die Amerikaner Scottie Sheffler. (Foto: PGA Championship/Twitter)

In die ou dae was ʼn plakboek enige kind se stukkie goud.

Die dik plakboek het gewemel van foto’s en uitknipsels van toeka se dae, van Springbokrugby- en kriekethelde, van boksers soos Viccie Toweel, Arnie Taylor, Willie Ludick en Charlie Weir, Gerrie Coetzee-hulle, van swemmers soos Karen Muir en Ann Fairlie, van atlete soos Gert Potgieter en Paul Nash en dan ook Gary Player.

Een van daardie stukkies goud wat jare lank bewaar is, was die telkaart van Gary Player wat in November 1974 op die voorblad van die destydse Transvaler gepronk het: Dit was 46 jaar gelede en daar het dit in swart en wit gestaan; 59 houe in die laaste ronde van die Brasiliaanse Ope wat aan Player ʼn sege van nege houe bo sy naaste teenstander besorg het om die toernooi, met ʼn asemrowende prysgeld van $24 000, te wen.

Vrydag het die 24-jarige Amerikaner Scottie Scheffler slegs die 12de speler (en die jongste) geword wat dié magiese syfer op sy telkaart in ʼn PGA-toernooi kon invul in die tweede ronde van die Northern Trust-toernooi.

Scheffler was glo nie eens daarvan bewus toe hy op die 17de afgeslaan het nie.

Maar toe hy op die 18de putjie ʼn sethou vir ʼn voëltjie aangeteken het nadat hy byna ʼn arend behaal het, het die kameras darem begin kliek, ongelukkig sonder enige toeskouers vanweë Covid-19.

Scheffler het slegs 129 houe oor die eerste twee rondes nodig gehad, maar die ironie is dat Dustin Johnson, wat ʼn ongelooflike 60 in die tweede ronde aangeteken het, op 127 met twee houe voor Scheffler en Cameron Davis is.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen (130) is ná rondes van 65 en 65, in die gesamentlike vierde posisie saam met Danny Lee en Harris English.

In gholf is dit ʼn wonderlike prestasie om die 59-kerf te behaal, vergelykbaar met Roger Bannister wat in 1954 die eerste keer die myl onder 4 minute kon aflê.

Om 12 voëltjies in ʼn foutlose rondte te behaal, is om van te droom.

Bygesê, 71 spelers het 139 houe of beter in die eerste twee rondes aangeteken om die valbyl vry te spring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SirDikDeDunnerin ·

Dink geluk speel groot rol in golf,
om droommyl te hardloop kort biedjie meer deursettingsvermo”e.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.