George Coetzee blaas vuurwarm

George Coetzee. Foto: Christiaan Kotze/AFP

Die Pretorianer George Coetzee kon kwalik vir beter voorbereiding vir die komende Britse Ope-gholftoernooi gevra het.

Dit nadat hy in die voorlopers se nekke geblaas het ná die tweede ronde van die Skotse Ope wat by die Renaissance-klub in North Berwick beslis word.

Coetzee het rondes van 66 en 66 aangeteken en is saam met die twee Engelse, Lee Westwood en Matthew Fitzpatrick (al drie op 132), net een hou agter die voorlopers. John Rahm van Spanje, Thomas Detry van België en Jack Senior van Engeland is saam voor op 131.

Coetzee, wat 110de op die jongste wêreldranglys is, het laas in 2020 die Portugese Meesters en die Titleist-toernooi gewen. Hy was baie bestendig, het die bal ver en reguit geslaan en goed geset in gunstige weerstoestande op dié baan met sy diep sandkuile langs die kus.

Coetzee het net soos in die eerste ronde weer ses voëltjies aangeteken en net op die tiende putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan.

Van die ander Suid-Afrikaners is Justin Walters (136) ook goed geplaas, terwyl Branden Grace, Christiaan Bezuidenhout, Branden Stone en Dean Burmester saam met 22 ander spelers net-net die afsnypunt op 140 houe gehaal het.

Maar Garrick Higgo en Darren Fichardt (albei 141), Zander Lombard en Daniel van Tonder (albei 143), Thomas Aiken (145) en Wilco Nienaber en Justin Harding (albei 146) was nie so gelukkig nie.

John Deere Classic

In die John Deere Classic wat in Illinois, VSA (Amerikaanse PGA-reeks), gespeel word, kon Dylan Frittelli (139) nie vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie.

Die Amerikaner Luke List (129) is voor gevolg deur Sebastian Munoz van Colombia (130).

Armco Team-reeks

In die Armco Team-reeks se vrouetoernooi (Europese reeks) wat in Londen gespeel word, is die Suid-Afrikaner Lee-Anne Pace (144) saam 20ste. Sy het haar 68 in die eerste ronde met 76 houe in die tweede ronde opgevolg. Haar landgenote Stacey-Lee Bregman en Nicole Garcia (albei 146) is verder terug op die telbord.

Georgia Hull van Engeland (135) is voor, gevolg deur Atthaya Thitkul van Maleisië (136).

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.