Daar was reeds op dag een van die Tshwane Ope-gholftoernooi by die Pretoria-buiteklub in Waterkloof duidelike tekens dat die spelers uitstekende tellings sou aanteken. Vanjaar se sesde Tshwane Ope is deur die Suid-Afrikaner George Coetzee gewen. Coetzee het die laaste dag op -14 begin en op -18 geëindig, twee houe beter as sy naaste teenstander.
Coetzee het vroeg twee houe aan syfer afgestaan en was in ʼn stadium met twee houe agter. Hy het egter ses voëltjies in tien putjies aangeteken tussen die sesde en vyftiende putjies.
Spel is twee keer deur reën onderbreek en die toernooi het Sondag net ná 18:00 geëindig. Coetzee het net soos in 2015 ʼn voëltjie op die 18de behaal om die titel syne te maak. Coetzee het daarmee geskiedenis gemaak en die eerste speler geword om die titel vir ʼn tweede keer te verower. Die Pretoria-buiteklub is waar Coetzee sy gholf as jong seun geslyp het vir die professionele arena. Coetzee het byna R2,4 miljoen met die oorwinning verdien.
Net vier Suid-Afrikaners kon in die top-10 op die voorlopersbord eindig. Engeland se Sam Horsfield was tweede met Finland se Mikko Korhonen derde.
Pos | Speler | Tel | Put | Dag | Rnd 1 | Rnd 2 | Rnd 3 | Rnd 4 | Tot |
1 | George Coetzee | -18 | F | -4 | 67 | 64 | 68 | 67 | 266 |
2 | Sam Horsfield | -16 | F | -4 | 68 | 69 | 64 | 67 | 268 |
3 | Mikko Korhonen | -15 | F | -3 | 68 | 64 | 69 | 68 | 269 |
4 | Felipe Aguilar | -14 | F | -4 | 65 | 67 | 71 | 67 | 270 |
Daniel van Tonder | -14 | F | -6 | 67 | 72 | 66 | 65 | 270 | |
Sebastien Gros | -14 | F | -6 | 69 | 70 | 66 | 65 | 270 | |
7 | Scott Jamieson | -13 | F | -3 | 67 | 69 | 67 | 68 | 271 |
8 | Pedro Oriol | -11 | F | -9 | 71 | 69 | 71 | 62 | 273 |
Thomas Aiken | -11 | F | -1 | 65 | 71 | 67 | 70 | 273 | |
10 | Erik van Rooyen | -10 | F | E | 68 | 68 | 67 | 71 | 274 |
Voor vanjaar se toernooi is vier van die vyf Tshwane Ope-toernooie deur Suid-Afrikaners verower. Hulle is Dawie van der Walt (2013), George Coetzee (2015), Charl Schwartzel (2016) en Dean Burmester (2017).
Klik hier vir meer inligting.