Gholf: 2de plek wink vir SA by Wêreldbeker

Dylan Frittelli. Foto: AP Photo/Wilfredo Lee

Die 59ste Wêreldbeker in Gholf begin Donderdag in Australië met 27 lande wat elk deur twee spelers verteenwoordig word. Die prysgeld beloop nagenoeg R110 miljoen.

Van die groot name wat dié toernooi al kon wen, sluit Jack Nicklaus, Gary Player en Tiger Woods in.

Suid-Afrika spog tans met die derde beste prestasie in die geskiedenis van die Wêreldbeker in Gholf. Vanjaar gaan Dylan Frittelli en Erik van Rooyen Suid-Afrika by die Metropolitan-gholfklub in Melbourne verteenwoordig.

Suid-Afrika se trotse rekord sluit vyf oorwinnings in sedert dié toernooi in 1953 aangebied is. Suid-Afrika het ook vier tweede plekke behaal. Hierdie prestasies plaas Suid-Afrika derde op die lys van kampioene.

Erik van Rooyen in aksie. Foto: Michael Sherman/ANA

Frittelli en Van Rooyen jaag dus vanjaar Suid-Afrika se sesde titel om ons na die tweede plek op te skuif. Die VSA beklee die eerste plek met 24 titels.

Gary Player en Harold Henning het Suid-Afrika se eerste Wêreldbeker-toernooi in 1965 gewen, gevolg deur die 1974-oorwinning van Dale Hayes en Bobby Cole. In 1996 het Ernie Els en Wayne Westner die botoon gevoer en in 2001 Els en Retief Goosen. In 2003 was dit die beurt van Trevor Immelman en Rory Sabbatini.

Die formaat van die kompetisie lyk só:

  • Die toernooi word oor 72 putjies oor vier dae beslis.
  • Op dag een en drie is die formaat beter bal.
  • Op dag twee en vier word beurtspel gespeel.

Van die spanne wat hierdie jaar onder die gunstelinge tel is:

  • Australië (Marc Leishman en Cameron Smith)
  • VSA (Kyle Stanley en Matt Kuchar)
  • België (Thomas Pieters en Thomas Detry)
  • Denemarke (Thorbjorn Olesen en Soren Kjeldsen)
  • Engeland (Tyrrel Hatton en Ian Poulter)

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.