Gholf: Aanpasbaarheid op Oakmont kan sleutel vir die Ope hou

Louis Oosthuizen. Foto: AP Photo/Jae C. Hong

Louis Oosthuizen. Foto: AP Photo/Jae C. Hong

Die verwagte onstuimige weer en reën laat Donderdag in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope-gholftoernooi by die Oakmont-buiteklub net buite Pittsburgh kan dié monsterbaan vir die res van die toernooi ʼn heeltemal ander karakter gee.

Boonop word daar Vrydagoggend ook reën verwag. Oakmont is reeds sedert die 1930’s berug vir sy vinnige setperke wat boonop vol hellings is. Dit word, en nie net om dié rede nie, as een van die moeilikste bane in die VSA Ope beskou.

Die verskil tussen die normale “harde” Oakmontbaan met die vinnige setperke en die baan ná reën is egter die grootste in die VSA. Dit verskil só baie, sê die uitvoerende beampte van die VSA se gholfvereniging en ook die Ope se toernooidirekteur, Mike Davis, dat spelers die toernooi in elke geval met ʼn ander ingesteldheid moet benader. Die sagter baan sal na verwagting ná die reën meer aanvallende spel van die spelers tot gevolg hê.

Phil Mickelson – wat Donderdag 46 op die dag van die eerste ronde word en op soek is na sy eerste Amerikaanse Ope-titel – sê hy meen dis die moeilikste baan “waarop ons nog ooit gespeel het. Uitdagende, moeilike bane gee darem meestal vir jou ʼn bietjie skiet op die setperke, maar dit is nie by Oakmont die geval nie”.

♦ Dit is natuurlik dikwels die geval dat allerlei verrassings uit die lang lys begaafde gholfspelers kan kom soos op Augusta vanjaar toe Danny Willett gewen het, maar die verwagting is tóg dat die titel op Oakmont deur die voorste drie ter wêreld, Jason Day, Jordan Spieth en Rory McIlroy, uitgespook sal word.

Spelers soos Dustin Johnson, Adam Scott, Rickie Fowler, Justin Rose, Bubba Watson, Danny Willett, Henrik Stenson, Phil Mickelson, Brandon Grace, Matt Kuchar, Louis Oosthuizen en Paul Casey tel ook almal onder die voorstes en die beroepswedders se gunstelinge.

En sal dit nie lekker wees as Sergio Garcia dalk, net dalk, sy eerste Grote kan wen nie?

Benewens Oosthuizen en Grace speel Charl Schwartzel, Thomas Aiken, Ernie Els, Retief Goosen en Jaco van Zyl van Suid-Afrika ook in die toernooi.

Die eerste twee drieballe slaan Donderdag 12:45 SA tyd af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.