Gholf: Ahlers wen Spelerskampioenskap

Jaco Ahlers (Foto: SA Tour Golf, Twitter)

Jaco Ahlers (-18) het die Stella Artois-spelerskampioenskap by die Dainfern-buiteklub op die tweede uitspeelputjie gewen. Hy en Ockie Strydom het die laaste ronde in 66 houe voltooi en moes daarna twee keer terugloop na die agtiende bof.

ʼn Kaphou van Strydom het te ver verby die putjie gerol en hy het die sethou verbrou om nog ʼn uitspeelputjie af te dwing.

By die Zurich Classic op die Amerikaanse PGA-toer, wat in spanformaat gespeel word, is die Suid-Afrikaners Garrick Higgo en Branden Grace (-24) vyf houe agter die voorlopers, Xander Schauffele en Patrick Cantlay (-29).

Die Amerikaners Schauffele en Cantlay het die derde ronde in 59 houe voltooi, wat tien voëltjies en ʼn arend ingesluit het. Higgo en Grace het ʼn ronde van 63 gespeel.

Drie spanne, Sam Burns en Billy Horschel, Australiërs Jason Day en Jason Scrivener, asook Aaron Rai en David Lipsky, is in die gesamentlike derde plek. Hulle is ses houe agter die voorlopers.

Elke lid van die wenspan kry prysgeld van byna R19 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.