Gholf: België se Thomas-kwadraat  loop oor 27 lande

Die Belg Thomas Detry. Foto: Facebook

Die 59ste Wêreldbeker van Gholf is Sondag in Australië afgehandel met België wat as oorwinnaar uit die stryd getree het. Thomas Pieters en Thomas Detry het met drie houe geseëvier nadat hulle die laaste dag met ʼn voorsprong van vyf houe begin het. Dié twee spelers het ʼn 68 in die laaste ronde aangeteken. Dit was België se eerste oorwinning in die toernooi.

Daar was 27 deelnemende lande wat elkeen deur twee spelers verteenwoordig is. Van die groot name wat dié toernooi al voorheen kon wen, sluit in Jack Nicklaus, Gary Player en Tiger Woods.

Australië en Mexiko het gesamentlik tweede op die voorlopersbord geëindig.

-23 België

-20 Australië en Mexiko

-17 Denemarke en Kanada

-16 Suid-Korea en Italië

-15 Engeland

– 8 Suid-Afrika (Dylan Frittelli en Eric van Rooyen)

 Suid-Afrika se trotse rekord by dié toernooi sluit vyf oorwinnings in sedert 1953. Dylan Frittelli en Erik van Rooyen het Suid-Afrika by die Metropolitan Gholfklub in Melbourne verteenwoordig en hulle was uiteindelik 18de uit 27 spanne op -8.

 Gary Player en Harold Henning het Suid-Afrika se eerste Wêreldbeker-toernooi in 1965 gewen, gevolg deur die 1974-oorwinning van Dale Hayes en Bobby Cole. In 1996 het Ernie Els en Wayne Westner die botoon gevoer en in 2001 Els en Retief Goosen. In 2003 was dit die beurt van Trevor Immelman en Rory Sabbatini.

 Die formaat van die kompetisie lyk só:

  • Die toernooi is oor 72 putjies oor vier dae beslis.
  • Op dag een en drie was die formaat beterbal.
  • Op dag twee en vier is beurtspel gespeel.

Nog inligting is beskikbaar by: https://www.pgatour.com/tournaments/isps-handa-melbourne-world-cup-of-golf.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.