Gholf: Bezuidenhout sak terug op Wentworth

Christiaan Bezuidenhout in aksie tydens die Amerikaanse Ope (Julie 2021) (Foto: Sean M. Haffey/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het dit Vrydag in Wentworth heel rustig in die tweede ronde van die BMW PGA-kampioenskap gevat nadat hy 64 houe (sewe voëltjies en ʼn arend) in Donderdag se eerste ronde aangeteken het en toe saam voor was.

Bezuidenhout het die tweede ronde in 72 houe voltooi, wat gelyk aan baansyfer is. Hy het twee voëltjies aangeteken, maar ook op die sewende en 13de putjies houe aan baansyfer afgestaan om op 136 houe te eindig in die gesamentlike agtste posisie.

Kiradech Aphibarnrat van Thailand is op 132 een hou voor Francesca Laporta van Italië en Laurie Canter van Engeland (albei 133).

Hulle word gevolg deur die Aussie Adam Scott op 134 met die Amerikaner Billy Horschel, Justin Rose van Engeland en Jamie Donaldson van Wallis almal op 135.

Van die ander Suid-Afrikaners is Justin Walters en Dean Burmester albei saam 36ste op 140, met Brandon Stone op 141 (51ste) en George Coetzee op 142 verder terug.

* In die plaaslike Sonskynreeks het Jacques Kruiswijk (198 houe) Vrydag die Sonskynreeks se Uitnodigingstoernooi by die Centurion-buiteklub met een hou gewen.

Hy is gevolg deur Michael Palmer en Albert Venter (albei 199), Jaco van Zyl (200) en Ruan Conradie en Lyle Rowe (202).

* In die Switserse Ope vir vroue wat by Golfpark Holzhausern gespeel word, is Suid-Afrika se Nicole Garcia (134) net vier houe agter die gesamentlike voorlopers, Kim Metraux (Switserland) en Sandra Gaul (Duitsland), wat albei op 130, 14 houe onder die baansyfer is.

Marianne Skapnord (Denemarke) en Chloe Williams (Wallis) is saam derde op 133.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.