Gholf: Bottelnek in Dubai

Argieffoto van Branden Grace (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

ʼn Mens kry die gevoel dat die Suid-Afrikaanse gholfaanslag in Dubai in ʼn erge verkeersknoop beland het en sukkel om daaruit te kom.

Daar is ʼn bottelnek van sewe spelers wat die voorste twee posisies ná die derde ronde van die DP World Tour-kampioenskap beklee met Suid-Afrika se Branden Grace (210) die beste geplaas, hoewel hy saam 12de is.

Grace is net vyf houe agter die gesamentlike voorlopers, Matthew Fitzpatrick en Laurie Canter (albei Engeland) en die Amerikaner Patrick Reed (al drie op 205, wat 11 houe onder die baansyfer is).

Hulle word gevolg deur Lee Westwood (Engeland), Adria Arnaus (Spanje), Robert McIntyre (Skotland) en die Noorweër Viktor Hovland (al vier op 206, -10).

Grace, wat 72 houe in Saterdag se derde ronde aangeteken het, is een hou voor sy landgenote Erik van Rooyen en Brandon Stone (albei 211), gevolg deur Shaun Norris en Christiaan Bezuidenhout (212), George Coetzee en Garrick Higgo (213), Justin Harding (214), Dean Burmester (215) en die jong Wilco Nienaber 216, wat Saterdag 67 houe aangeteken het.

* In Houston, Texas, het Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (219) se aanslag in die derde ronde van die Amerikaanse Ope vir vroue verdwyn en is sy 10 houe agter die voorloper Hinako Shibuno van Japan, wat op 209 een hou voor die Amerikaner Amy Olson is.

Hulle word gevolg deur Kim Ji-Yang van Korea en Moriya Jutanugarn van Thailand, wat saam derde is op 211.

Shibuno (22) het in 2019 reeds die Britse Ope gewen. Haar bynaam is die “Glimlaggende Aspoester” omdat daar na elke sethou ʼn glimlag op haar gesig verskyn.

Buhai het 79 houe in die derde ronde aangeteken.

* In Naples in die Amerikaanse deelstaat Florida is Suid-Afrika se Louis Oosthuizen en sy Amerikaanse speelmaat Bubba Watson (-18) in die derde plek ná die derde ronde van die QBE-toernooi.

Matt Kuchar en die Engelsman Harris English (-25) gee die pas aan met vyf houe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.