Gholf: Branden bou voort op Bokke se sege

Suid-Afrika se Branden Grace. Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP.

Suid-Afrika se Branden Grace, wat een van die Springbokke se grootste ondersteuners is, het sekerlik Saterdag in Noord-Carolina in Amerika groot vreugde gesmaak toe die Bokke die Argentynse Poemas in die Rugbykampioenskap uitoorlê het.

Grace het daarop voortgebou en 64 houe in die derde ronde van die Wyndham-kampioenskap in die Amerikaanse PGA-gholfreeks aangeteken om saam met vyf ander spelers in die voorloper Russell Henley (195, -15) se nek te blaas.

Grace, wat tellings van 66 en 69 houe in die eerste twee rondes aangeteken het, is vier houe agter Henley, maar net een hou agter nog ʼn Amerikaner, Tyler McCumber (198), wat alleen tweede is.

Die oud-Suid-Afrikaner Rory Sabbatini, wat nou onder die Slowaakse vlag meeding en onlangs die silwer medalje by die Olimpiese Spele in Tokio verower het, is saam met Grace-hulle derde.

* In Londen is die Deense speler Rasmus Hojgaard (202) met drie houe voor Jordan Smith (Engeland) en die Skot Callum Hill ná die derde ronde van die Cazoo Classic-toernooi in die Europese reeks.

Daniel van Tonder (209) is 19de en Justin Walters (212) 39ste.

* In die Skotse Ope vir vroue in Dumbarnie blaas Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (208) in Charley Hull (Engeland), Ryann O’Toole (Amerika) en Ariya Jutanugarn (Thailand) se nekke ná die derde ronde.

Die voorlopers is al drie op 207 met Buhai, wat verlede week tweede geëindig het in die Aramco Sotogrande-toernooi, op 208.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.