Gholf: Branden Grace wen miljoene

Branden Grace het Sondagoggend breed geglimlag. (Foto: Steve DYKES / Getty Images via AFP)

Die Suid-Afrikaner Branden Grace het vroeg Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) op die Pumpkin Ridge-baan in Portland die Amerikaners laat stik toe hy die tweede LIV-toernooi gewen het en ʼn ongelooflike wentjek van $4 miljoen (sowat R65 993 000) in sy sak gesteek het.

Grace het op 203 houe (-13) geëindig en die Mexikaan Carlos Ortiz (205, -11) en die twee Amerikaners Dustin Johnson en Patrick Reed (albei 207, -9) na die kroon uitgestof.

Dit beteken dat Grace met elkeen van sy 203 houe sowat R325 000 verdien het.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen het op 209 houe (-7) klaargemaak, gevolg deur Justin Harding (213, ‑3), Hennie du Plessis en Ian Snyman (albei 222, +6), Charl Schwartzel (224, +8) en Shaun Norris (233, +17), wat almal mildelik in die enorme pryspot gedeel het.

Wat die Amerikaners heel bekaf sal laat, is dat Schwartzel twee weke gelede die eerste LIV-toernooi buite Londen gewen het en die Suid-Afrikaners toe ook met die bykomende bonus in die spanafdeling weggestap het.

Grace het in sy loopbaan twee oorwinnings in die Amerikaanse PGA-reeks behaal en was nege keer in die Europese reeks baas.

Sy vorige hoogste prysgeld was sowat R16 miljoen, wat hy in 2016 gewen het toe hy die RCB Heritage gewen het.

In sy loopbaan het hy tot dusver ʼn rapsie meer as $12 miljoen (bykans R263 miljoen) in die PGA-reeks gewen; nou het hy in twee LIV-toernooie oor net ses rondes reeds meer as $6,6 miljoen (sowat R108 miljoen) in sy sak gesteek – en wees maar verseker dat hy miljoene betaal is om aan die reeks deel te neem.

Oosthuizen het Sondag meer as R16 miljoen verdien en selfs Norris het meer as R2 miljoen geskep met sy tweede laaste plek (233 houe, +17 houe)

Die onbekende Australiese Jediah Morgan, wat laaste oor die drie rondes geëindig het, 34 houe agter Grace, het meer as R2 miljoen verdien.

Intussen het die Engelsman Paul Casey ook aangekondig dat hy hom by die reeks gaan aansluit. Dit is nou net ʼn kwessie van tyd voordat nog topspelers ook hulle gewig by die LIV-reeks gaan ingooi, want dis nie elke dag Kersfees nie.

* In die John Deere-toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks loop die Amerikaner JT Poston met drie houe voor ná die derde ronde, met 194 houe, 19 onder die baansyfer.

Hy word gevolg deur nog twee Amerikaners, Denny McCarthy en Scott Stallings, en die Argentyn Emiliano Grillo (almal op 197 houe, -16).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout is agtste (200, -13), met Dylan Frittelli op 206 (-7).

*  In die Ierse Ope, wat deel is van die DP World Tour (Europese reeks) wat in Kilkenny beslis word, slaan Adrian Meronk van Pole (204, -14) Sondagmiddag as voorloper in die vierde en laaste ronde af.

Hy word gevolg deur Jorge Campillo van Spanje, Fabrizio Zanotti van Paraguay en Jack Senior van Engeland op 203 (-13).

Thriston Lawrence van Suid-Afrika blaas in die voorlopers se nekke op 204 (-11), met Justin Walters (210), Oliver Bekker (211), Brandon Stone (212) en Zander Lombard (216) wat ook bors uitsteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Branden, moet in hemelsnaam nie jou $4 miljoen in jou rusbank wegsteek nie……………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.