Gholf: Branden-hulle kan maar net kopskud

Suid-Afrika se Branden Grace. Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP.

Wanneer enige gholfspeler die derde ronde van ʼn toernooi in die Europese reeks op 207 houe (nege onder die baansyfer) afsluit, verwag hy darem om binne trefafstand van die voorloper te wees en nie met 14 houe agter te loop nie.

Dit is juis wat Saterdag in die derde ronde van die Nederlandse Ope gebeur het wat by die Bernardus-gholfklub in Cromvoirt gespeel word.

Suid-Afrika se Branden Grace het 67 houe in die derde ronde aangeteken en op 207 geëindig, nege minder as die baansyfer.

Kort op sy hakke het Louis de Jager (208) en Justin Harding, Wilco Nienaber en Bryce Easton (almal 209, -7) gevolg, maar hulle is ver agter die voorloper, die 35-jarige Sweed Kristoffer Broberg.

Broberg het 61 houe in die derde ronde aangeteken (ʼn nuwe baanrekord) en is op 193 houe, 23 houe onder baansyfer.

Sy naaste teenstander is die Deen Marcus Heligkilde, wat 14 houe onder baansyfer is (agt houe agter), gevolg deur die Duitser Mattias Schmid, Alejandro Canizares (Spanje) en die Engelsman Richard Mansell.

Broberg was in 2012 op die kruin van ʼn baie belowende loopbaan toe hy drie toernooie in die Europese reeks binne die bestek van ʼn maand gewen het.

Hy het in 2015 die BMW Meesters gewen, maar ná ʼn reeks ernstige heup- en kniebeserings kon hy tussen 2018 en 2020 net 11 keer afslaan.

Nou wink glorie weer vir hom.

* Op die Silverado-baan in Kalifornië is die onbesonge Amerikaners Maverick McNealy en Jim Knous (202, -14) die gesamentlike voorlopers ná die derde ronde van die Fortinet-toernooi, wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Hulle word gevolg deur hul Amerikaanse landgenote Beau Hossler, Max Homa, Scott Stalling en Troy Merritt asook die Chileen Guillermo Mito Perreira, almal op 203.

Suid-Afrika se Dawie van der Walt (206) is saam negende.

* By Mount Edgecombe in Umhlanga het die 25-jarige Louis Albertse die Vodocam Origins-toernooi, wat deel is van die Sonskynreeks met prysgeld van R1 miljoen, met een hou gewen nadat hy die drie rondes in 201 houe voltooi het.

Hy is gevolg deur CJ du Plessis op 202, met die veteraan Brasiliaan Adilson de Silva, Deon Germishuys en Riekus Nortjé saam derde op 204.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.