Gholf: Brandon maak stem dik in Dubai

Brandon Stone. Foto: Kenny Smith/PA via AP

Die tafel is Sondag in Dubai gedek vir ʼn heerlike feesmaal tydens die laaste ronde van die geldryke Dubai Desert Classic-gholftoernooi. Dít met twee Suid-Afrikaners wat stewig in die wedloop is.

Die Engelsman Paul Casey (201), wat 64 houe in Saterdag se derde ronde aangeteken het, is een hou voor die jong Skot Robert McIntyre (202), met Suid-Afrika se Brandon Stone (203) wat in hul nekke blaas.

Sergio Garcia van Spanje en Laurie Canter van Engeland staan op 206, gevolg deur Justin Harding van Suid-Afrika, Justin Rose van Engeland en die Belg Thomas Detry, wat al drie saam sesde op 207 is.

Stone, wat vir ʼn ruk voor was, het vyf voëltjies in die derde ronde aangeteken, maar ongelukkig op die 12de putjie verbrou en ʼn hou aan baansyfer afgestaan toe hy drie keer geset het.

Harding se rondte was ʼn mengelmoes, wat vyf voëtjies ingesluit het, hoewel hy by drie putjies houe aan baansyfer afgestaan het. Boonop het hy twee houe aan baansyfer op die negende putjie ingeboet.

Van die ander Suid-Afrikaners is Justin Walters (211) die beste geplaas. Ricahard Sterne, wat ná die eerste ronde voorgeloop het, is op 213, gevolg deur Christiaan Bezuidenhout op 214.

Die toernooi het prysgeld van $3,25 miljoen (bykans R48 miljoen).

* In San Diego in Kalifornië het die Suid-Afrikaanse aanslag van Charl Schwartzel (142), Dylan Frittelli en Louis Oosthuizen (albei 143) gewankel ná die tweede ronde van die Farmers Insurance-toernooi.

Die Noorweër Viktor Hovland (135) is voor, gevolg deur ses spelers, Jon Rahm, Adam Scott, Tony Finau, Patrick Reed, Ryan Palmer en Lanto Griffin op 136.

Frittelli en Oosthuizen is saam met 24 ander spelers op 143 en het die valbyl net-net vrygespring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.