Gholf: Brooks Koepka wen sy tweede Major van die jaar

Brooks Koepka (regs) saam met sy joggie, Ricky Elliott, nadat hy die Amerikaanse PGA-kampioenskap gewen het (12 Augustus 2018). Foto: Jeff Roberson/AP

Die Amerikaanse Ope is vroeër die jaar deur Brooks Koepka gewen en Sondag het hy ook die Amerikaanse PGA-kampioenskap gewen (die vierde Major van 2018). Tiger Woods was twee houe agter Koepka in die tweede plek en Adam Scott het derde geëindig.

Brooks Koepka het die laaste ronde op die Bellerive Buiteklub in St. Louis met ʼn twee houe voorsprong begin (-12) en ʼn ronde van 66 gespeel om op -16 te eindig. Dit was Koepka se derde major van sy loopbaan.

Hy het ook slegs die vyfde speler geword om die Amerikaanse Ope en PGA in een jaar te wen. Die ander spelers was Tiger Woods, Jack Nicklaus, Gene Sarazen en Ben Hogan.

Tiger Woods het verbete teruggeveg in sy poging om sy 15de Major te wen. Woods het gesukkel met sy bofhoue en hy kon nie een skoonveld tydens sy eerste nege putjies raakslaan nie. Hy het egter met ongelooflike herstelhoue in die wedloop gebly. Woods het ʼn ronde van 64, wat ses houe onder die baansyfer is, aangeteken om tweede te eindig.

Vyf Suid-Afrikaners was in aksie waarvan vier gekwalifiseer het vir die laaste twee rondes. Charl Schwartzel was net vier houe agter die voorloper met die aanbreek van die laaste ronde. Charl het egter ʼn 75 gespeel om 13 houe agter die wenner te eindig. Brandon Stone het op -8 die beste van die Suid-Afrikaners gevaar.

Finale voorlopersbord:

1 Brooks Koepka -16
2 Tiger Woods -14
3 Adam Scott -13
4 Stewart Cink -11
Jon Rahm -11
12 Brandon Stone -8
27 Branden Grace -6
31 Dylan Frittelli -5
42 Charl Schwartzel -3

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

Welgedaan Brooks Koepka. Hy is besig om ‘n groot speler te word.

GG ·

@Rupert, inderdaad, hy is n baie exciting speler om te kyk, so ook Justin Thomas, goeie paar jaar van golf wat voor ons le met die spelers tans op die PGA toer. As Mcilroy sy kort game kan verskerp en meer fairways tref, kan hy weer n moeilike oponent raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.