Gholf: Charl verdien R10 miljoen met goeie setwerk

Charl Schwartzel. Foto: Michael Sherman/ANA

Die Spelers-kampioenskap op TPC Sawgrass in Florida het net op die regte tyd vir Charl Schwartzel aangebreek. Dit was tot dusver nie ʼn goeie jaar vir Charl nie. Hy het agteruitgeboer op die wêreldranglys en was ook nie meer onder die top-drie Suid-Afrikaners nie.

Schwartzel het egter Maandag die aap uit die mou gelaat oor sy sukses die afgelope naweek. Charl het gesamentlik tweede geëindig in die sogenaamde vyfde Major van die jaar. Hy was (-14) vier houe agter die wenner Webb Simpson (-18). Wie weet wat sou gebeur het as Charl nie ʼn 73 in die derde ronde gespeel het nie?

Schwartzel het sy sukses te danke aan sy setwerk. Hy het na die toernooi gesê dat hy nog altyd goed geset het, maar dat hy weer sy selfvertroue teruggekry het en wanneer hy ʼn lyn kies, gló dit is die regte een. Sy ritme is ook dan meer egalig, het Schwartzel bygevoeg.

Schwartzel het rondes van 68 66 73 en 67 op sy telkaart ingevul. Charl het vier voëltjies oor die laaste sewe putjies behaal. Hy het nagenoeg R10 miljoen verdien en ook met 19 plekke op die wêreldranglys verbeter na die 43ste posisie.

Rory Sabbatini het op -8 geëindig en Branden Grace op -5. Louis Oosthuizen kon nie vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie.

Die volgende groot toernooi is die Amerikaanse Ope wat op 14 Junie begin.

Meer inligting is beskikbaar hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.