Gholf: Deen wen in Bloemfontein

gholf-gras-bal-pixabay.jpg

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: HeungSoon/Pixabay)

Die Suid-Afrikaner Luke Jerling (-20) moes net ʼn voëltjie op die laaste putjie aanteken om die Mangaung-Ope in ʼn sopnat Bloemfontein te wen. Dit sou selfs goed genoeg wees as hy op die 18de putjie net syfer 5 kon aanteken, want dan kon hy ʼn uitspeelstryd met die Deen Oliver Hundeboll (-21) afdwing.

Dit was nie wat die noodlot beplan het nie. Sy tweede hou het die pad byster geraak en hy was in die ruveld tussen die bome. Sy derde hou het in die sopnat sandkuil beland en hy moes tevrede wees met ʼn brouhou.

Nog ʼn Suid-Afrikaner, Tristen Strydom, was saam met Jerling in die tweede plek.

Die Spanjaard Scott Fernandez en die Skot Craig Ross het saam vierde geëindig.

Jbé Kruger was gesamentlik sesde nadat hy die derde ronde in ʼn baanrekord van 61 houe voltooi het.

By die Kenia-Ope in die DP World Tour-reeks in Nairobi het Ashun Wu (-16) met vier houe gewen. Die Suid-Afrikaner Thriston Lawrence (-12) was saam met Hurly Long van Duitsland en die Kanadees Aaron Cockerill in die tweede plek.

By die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi in Florida is die Amerikaners Billy Horschel (-7) en Talor Gooch (-7) die voorlopers ná die derde ronde. Viktor Hovland van Noorweë is een hou agter hulle.

Die Suid-Afrikaner Christiaan Bezuidenhout is sewe houe agter die voorlopers. Hy is in die gesamentlike 17de plek saam met spelers soos Jon Rahm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.