Gholf: Die Suid-Afrikaanse vlag wapper

Louis Oosthuizen in aksie by die Zurich Classic . (Foto: Stacy Revere/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se voorste gholfspelers het hulle deeglik laat geld in die tweede ronde van toernooie wat wêreldwyd gespeel word.

Limpopo-kampioenskap

Op tuisbodem loop Daniel van Tonder met twee houe voor in die Limpopo-kampioenskap wat by die Euphoria-buiteklub by Mookgophong (Naboomspruit) gespeel word. Die toernooi is deel van die plaaslike Sonskynreeks.

Van Tonder het ʼn tweede ronde van 68 aangeteken en is twee houe voor die Noorweër Kristian Johannessen wat weens swak lig nog nie sy rondte kon voltooi nie.

Hy slaan vanoggend vroeg op die 17de putjie af voordat die ander spelers die derde ronde aandurf.

Tristen Strydom, MJ Viljoen, Jake Roos en Jaco Prinsloo is saam in die derde plek op 137, sewe houe onder die baansyfer.

Zurich Classic

Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel. (Foto: Chris Graythen/Getty Images/AFP)

In New Orleans in die VSA is Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel sesde, net drie houe agter in die Zurich Classic ná die tweede ronde van dié toernooi wat volgens beurtspelle beslis is. Dié spantoernooi is deel van die Amerikaanse PGA-reeks.

Oosthuizen en Schwartzel het tellings van 63 en 71 in die eerste twee rondes aangeteken en is drie houe agter die voorlopers Viktor Hovland en Kris Ventura, asook Cameron Champ en Tony Finau.

Die top-33 spanne dring tot die laaste twee rondes deur.

Gran Canaria Lopesan-ope

In Las Palmas, Spanje, is Garrick Higgo net drie houe agter die voorloper ná die tweede ronde van die Gran Canaria Lopesan-ope, wat deel is van die Europese reeks.

Higgo is op 129 (-11) ná rondtes van 65 en 64. Van die ander Suid-Afrikaners wat in die wedloop is, is Zander Lombard (131), Justin Harding en Dean Burmester (albei 132), Justin Walters (134) en Louis de Jager (135).

Die Deen Thorbjorn Olesen (126) is met een hou voor die Wallieser Rhys Enoch en die Fransman Will Beseling (albei 127).

Daar hang steeds ʼn swaard oor die kop van Olesen, wat van ʼn seksuele misdryf in 2019 tydens ʼn vlug van Nashville na Londen aangekla word. Sy verhoor is tot in Desember 2021 uitgestel.

Die Amerikaanse PGA het verlede jaar Olesen se skorsing opgehef weens die lang vertraging in sy verhoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.