Gholf: Die tweede major van die jaar is hier

Patrick Reed. Foto: AP Photo/Chuck Burton, File

Die wêreld se voorste spelers skud tans hul vere reg vir die Amerikaanse Ope-gholftoernooi wat Donderdag (14 Junie) op Shinnecock Hills in New York begin.

Die toernooi keer ná 14 jaar terug na die baan en sal nou vir die vyfde keer in die geskiedenis hier gespeel word.

Die eerste major van die jaar, die Amerikaanse Meesters, is in April op Augusta deur Patrick Reed gewen. Rickie Fowler was alleen tweede op -14 na ʼn briljante 65 in die laaste ronde. Jordan Spieth het die derde plek ingeneem op -13. Louis Oosthuizen van Suid-Afrika was gesamentlik twaalfde op -6.

Nou lê die tweede major van 2018 voor. Daar het so pas ʼn nuwe nommer een-speler se naam op die wêreldranglys verskyn, naamlik Dustin Johnson. Johnson is weer terug in die eerste plek nadat Justin Thomas die posisie vir ʼn klompie weke beklee het.

Jongste Wêreldranglys:

1 Dustin Johnson

2 Justin Thomas

3 Justin Rose

4 Jordan Spieth

5 Jon Rahm

33 Louis Oosthuizen

34 Branden Grace

44 Charl Schwartzel

Louis Oosthuizen. Foto: AP Photo/Chuck Burton

Die groeperings vir die eerste twee dae is bekendgemaak. Tiger Woods (wat al 14 majors gewen het) sal saam met die wêreld se twee topspelers, Justin Thomas en Dustin Johnson, afslaan. Die groepering speel Donderdag in die namiddag en Vrydag in die voormiddag.

Aan die ander kant van die loting is die groepering van Jordan Spieth, Rory McIlroy en Phil Mickelson wat die aandag trek. Mickelson moet nog nét die VSA Ope wen om sy sogenaamde Loopbaan Grand Slam van al vier majors te behaal.

Patrick Reed (die Meesterskampioen), Zach Johnson en Charl Schwartzel speel saam. Behalwe Schwartzel is daar vyf ander Suid-Afrikaners wat in aksie sal wees. Hulle is Branden Grace, Dylan Frittelli, Louis Oosthuizen, Dean Burmester en Ernie Els.

Die Suid-Afrikaners wat die toernooi al kon wen, is Gary Player, Ernie Els (1994 en 1997) en Retief Goosen (2001 en 2004).

Die afslaantye in New York is 6 uur later as gevolg van die tydverskil met Suid-Afrika. Die toernooi spog met ʼn prysgeld van nagenoeg R160 miljoen.

Die toernooi begin op Donderdag 14 Junie terwyl die vierde en laaste ronde op Sondag 17 Junie beslis sal word.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.