Gholf: Dis óf Louis óf Charl op Leopard Creek

Louis Oosthuizen (Foto: Quinn Harris/Getty Images/AFP)

Vra jy vir enige Suid-Afrikaanse gholfondersteuner wat sy droom-wenslysie is vir die laaste ronde van ʼn belangrike toernooi en hy of sy sal ongetwyfeld sê om Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel saam in die kookpot te gooi.

Maar dis nie al nie, want ʼn verdere bonus in Sondag se laaste ronde van die Alfred Dunhill-kampioenskap op die Leopard Creek-baan oorkant die Krugerwildtuin gespeel word, is dat Christiaan Bezuidenhout op hul spoor is.

Daarby is twee van die jong Turke van Suid-Afrikaanse gholf, Casey Jarvis en Jayden Schaper, ook nog in die wedloop.

Dit is ʼn droom-draaiboek vir dié toernooi wat deel is van die DP World Tour (Europese reeks).

Oosthuizen en Schwartzel slaan saam af op 201 houe (-15) met Bezuidenhout en Andy Sullivan (Engeland) wat saam tweede is op 206 (-10).

Hulle word gevolg deur Ashun Wu (China) en Marco Penge (Engeland), wat saam op 207 (-9) is, met Jarvis, Schaper, Matti Schmid (Duitsland), Robin Williams (Suid-Afrika) en Johannes Veerman (Amerika) saam sewende op 208 (-8).

Oosthuizen, wat sewe voëltjies en ʼn arend (op die sesde putjie) in die derde ronde aangeteken het, het nog nooit op Leopard Creek gewen nie. Hy was twee keer tweede en is vasbeslote om die jaar in Suid-Afrika op ʼn hoogtepunt af te sluit.

Hy het in die derde ronde na vore geskiet om die baanrekord van 63 houe (-9) te ewenaar.

Almal weet dat wanneer Oosthuizen die dag rooiwarm is, is hy byna onstuitbaar.

“Dit is een toernooi wat ek baie graag op my CV wil hê. Ek was ʼn paar keer al naby aan ʼn oorwinning, maar het dit ʼn hele paar keer opgefoeter. As ek Sondag kalm kan bly soos vandag en dieselfde dinge doen, dink ek dat ek ʼn goeie kans het,” het Oosthuizen in sy media-onderhoud gesê.

Charl Schwartzel tydens ‘n vorige toernooi in Jeddah (Foto: Amer HILABI / AFP)

Maar Schwartzel, wat die eerste keer in jare beseringsvry is en die toernooi vantevore reeds vier keer gewen het en vier keer tweede was, is nie bereid om sy mantel af te staan nie.

Hy het ses voëltjies en ʼn arend op die 15de putjie (syfer 4) aangeteken. Hy het 65 houe aangeteken nadat hy die tweede nege putjies in 31 houe voltooi het.

“Ons is al baie jare vriende en speel al jare lank gholf. Ek glo nie ek gaan die laaste ronde enigsins anders aanpak nie en ons sal ons bes probeer,” het Schwartzel, wat saam met Oosthuizen in die LIV-reeks speel, gesê.

* In die Grant Thornton-toernooi vir gemengde spanne wat in Florida in Amerika gespeel word (en deel is van die Amerikaanse PGA-reeks), loop die Australiër Jason Day en sy speelmaat, Lydia Ko van Nieu-Seeland, met twee houe voor ná die tweede van drie rondes.

Day en Ko het op 124 (-20) geëindig en hulle is twee houe voor Danny Glover van Amerika en Leona Maguire (Ierland) asook Tony Finau en Nelly Korda (albei Amerika) wat saam tweede is op 129 (-18).

Hulle word gevolg deur Megan Khan en Denny McCarthy (Amerika) en die Kanadese Corey Conners en Brooke Henderson en Nick Taylor (Amerika) en Ruoning Yin (China) wat saam met Rickie Fowler en Lexi Thomson (Amerika) vierde is op 128 (-16.).

Bronne: Europeantour.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.