Gholf: Dylan bult spiere, Branden huis toe

Suid-Afrika se Branden Grace. Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP.

ʼn Mens moet sekerlik nie te veel daarin lees nie, maar twee van Suid-Afrika se top-gholfspelers, Branden Grace en Garrick Higgo, asook Rory McIlroy van Noord-Ierland en Bryson DeChambeau van die VSA, sal vir die volgende paar dae maar op hul eie moet voorberei vir die Amerikaanse Meesters-toernooi wat komende Donderdag begin.

Nie een van hulle kon die afsnypunt haal in die Texas-Ope wat op die San Antonio-baan in die VSA gespeel word nie.

McIlroy het 73 houe in die tweede ronde behaal en was op 145. DeChambeau het nog swakker met 76 houe in die tweede ronde gevaar nadat hy op die eerste putjie drie houe aan baansyfer afgestaan het. Hy het op 149 houe geëindig, met Grace op 146 en Higgo op 148.

Dylan Frittelli (Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP)

Maar by die suur was daar ook baie soet nadat Dylan Frittelli van Suid-Afrika op 138 houe saam tweede was, net twee houe agter die voorloper, Ryan Palmer van die VSA.

Frittelli, Matt Kuchar en Kevin Chappell van die VSA was saam op 138.

* In die plaaslike Sonskynreeks loop die Deen Oliver Hundeboll met vier houe voor ná die derde ronde van die Limpopo-kampioenskap wat by die Euphoria-landgoed buite Modimolle beslis word.

Hy is vier houe voor Suid-Afrika se Hennie du Plessis (202) met Pieter Moolman van Suid-Afrika, Mateusz Gradecki van Pole en nog ʼn Suid-Afrikaner, Luke Jerling, wat almal op 203 houe is.

* Op die Steenberg-baan in Kaapstad het die immergroen Lee-Anne Pace die horlosie teruggedraai toe sy die Suid-Afrikaanse Ope vir vroue ná ʼn uitspeelstryd teen Magdalena Simmermacher van Argentinië gewen het. Albei spelers het saam eerste op 288 houe geëindig.

Becky Brewerton van Wallis, wat as voorloper afgeslaan het, kon nie die wind baasraak nie en 78 houe in die laaste ronde aangeteken om op 289 houe te eindig.

Die 41-jarige Pace, wat reeds 23 toernooie gewen het, het haar derde SA Ope-titel by haar versameling gevoeg nadat sy ook in 2014 en 2021 baas was.

Pace het R728 550 met haar oorwinning verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.