Gholf: Erik byt vas, Louis en Branden sak uit

Erik van Rooyen in aksie tydens die CJ Bekertoernooi in Las Vegas (Foto: Alex Goodlett/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Daar is nie veel om oor huis toe te skryf oor die aanslag van die land se voorste gholfspelers in Amerika en Europa nie.

Slegs Erik van Rooyen se naam pryk tussen die voorlopers ná die eerste twee rondes van die CJ Bekertoernooi in Las Vegas en die Andalusiese Meesters in Valderrama in Spanje.

Van Rooyen is op 133, 11 houe onder die baansyfer, maar hy is in die agtste posisie nadat hy 67 en 66 houe in die eerste twee rondes aangeteken het.

Die Amerikaner Keith Mitchell (126, -18) loop met vyf houe voor die Aussie Adam Scott, Seong-Yeong Kim van Korea en nog twee Amerikaners, Jordan Spieth en Harry Higgs, wat almal op 131 houe geëindig het. Hulle is 13 houe onder die baansyfer, maar vyf houe agter Mitchell.

Van die ander Suid-Afrikaners is Louis Oosthuizen (141) 63ste, met Charl Schwartzel en Branden Grace (albei 144) heeltemal buite die prentjie in die 75ste posisie.

* Die Fransman Romain Langasque loop by die Real-buiteklub in Valderrama op 138 houe met een hou voor die twee Engelsmanne, Matthew Fitzpatrick en Laurie Canter, en die Sweed Sebastian Soderberg (al drie op 139) ná die tweede ronde van die Andalusiese Meesters, wat deel is van die Europese reeks.

Suid-Afrika se Wilco Nienaber is in ’n teleurstellende 34ste posisie nadat hy 74 en 71 in die eerste twee rondes aangeteken het, met Justin Harding (147) nog swakker in die 55ste posisie.

Jon Rahm van Spanje (wat eerste op gholf se wêreldranglys is) se nagmerrie in sy tuisland duur voort nadat hy sy 78 houe (sy swakste nog as beroepspeler) in die eerste ronde met 74 houe opgevolg het. Rahm (152) kon nie die valbyl vryspring om vir die laaste tweede rondes te kwalifiseer nie.

* Op die Lost City-baan in Sun City loop Dylan Mostert (+25) voor ná die tweede ronde van die Blue Label-uitdaagtoernooie wat volgende Stableford-punte beslis word en deel is van die Sonskynreeks.

Mostert word gevolg deur Lyle Rowe (+24) en Ockie Strydom (+22) met die Wallieser Rhys Enoch en Jaco Ahlers (albei +21).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.