Gholf: Fransman wen by Zebula

Clement Sordet (Foto: Clement Sordet/Facebook)

Die Fransman Clement Sordet (-21) het die SDC Ope by die Zebula-gholflandgoed in Limpopo op die eerste uitspeelputjie gewen. Hy was na 72 putjies saam met die Suid-Afrikaner Ruan Conradie (-21) in die gesamentlike eerste plek.

Conradie se tweede hou op die eerste uitspeelputjie het in die ruveld beland en van daar af kon hy nie herstel nie. Sy kaphou van waar hy net van die setperk af gelê het, sou hom nog ʼn kans gee. Die balletjie het om die lip van die putjie gedraai en dit was so amper-amper of hy kon nog ʼn uitspeelputjie afdwing. Sordet het sy sethou vir ʼn voëltjie ingeslaan om sy eerste titel in vyf jaar te beklink vir ʼn wentjek van byna R580 000. Conradie se prysgeld is R402 000.

Die Suid-Afrikaner Deon Germishuys (-20) was in die derde plek.

By die Katar Meesters het die wind kaarte lelik deurmekaar gekrap. Die Skot Ewen Ferguson (-7) het die wind die beste verstaan en sy eerste titel op die DP World-toer gewen.

Justin Harding (-4) het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar en in die gesamentlik vyfde plek klaargemaak. Daarvoor kry hy prysgeld van R800 000.

Wilco Nienaber (-3) en Justin Walters (-3) was in die gesamentlike twaalfde plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.