Gholf: Frittelli uit die bloute op voorgrond

Dylan Frittelli. (Foto: AP Photo/Lee Jin-man)

Suid-Afrika se Dylan Frittelli het die juk van middelmatigheid wat hom die afgelope ruk gevolg het, afgeskud en die beste van die Suid-Afrikaners gevaar ná die eerste twee rondes van die Spelerskampioenskap wat in Florida wat voor ʼn paar duisend toeskouers beslis word.

Frittelli (139) is vier houe agter die 47-jarige Engelsman Lee Westwood (135, nege onder baansyfer) in dié glans-toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks, gevolg deur Matthew Fitzpatrick (Engeland, 136) en die Amerikaner Chris Kirk en die Spanjaard Sergio Garcia, wat albei op 137 is.

Garcia was ná die eerste ronde voor, maar na sy 65 houe in die eerste ronde, het hy dit met 72 houe opgevolg.

Frittelli, wat die afgelope drie toernooie nie die afsnypunt kon haal nie en in die Farmers Insurance-toernooi 53ste geëindig het, het 68 houe in die tweede ronde aangeteken.

Hy het 36 houe oor die eerste nege behaal, maar vyf voëltjie-sette oor die tweede nege ingerol en net op een putjie (18de) ʼn hou aan baansyfer oor die tweede nege afgestaan.

Van die ander Suid-Afrikaners is Christiaan Bezuidenhout en Louis Oosthuizen (albei op 142) die beste geplaas, maar Branden Grace (147) is 100ste en Charl Schwartzel (152) sal na alle waarskynlikheid nie kwalifiseer nie, hoewel ʼn paar spelers nog hul tweede rondes vanweë swak lig moet voltooi.

* In Doha, Katar, is Darren Fichardt en van sy ander Suid-Afrika landgenote besig om hul stempel behoorlik af te druk in die Katar Meesters in die Europese reeks.

Jeff Winther (Denemarke) is voor op 134 (-8), gevolg deur Fichardt, Jamie Donaldson van Wallis, Jack Senior van England, die Fin Kalle Samooja en die Amerikaner Kurt Kitayama (almal op 136).

Brandon Stone en Garrick Higgo (albei op 137) is ook baie goed geplaas, met Hennie du Plessis (139) wat na die eerste ronde voor was, en Shaun Norris (albei 139) ook nog stewig in die saal.

* In die plaaslike Sonskynreeks se Spelerskampioenskap wat by die Dainfern-buiteklub beslis word, is Jake Roos (128) met drie houe voor Oliver Bekker (131) gevolg deur Jean Hugo en Jaco Prinsloo (albei 132).

Die toernooi het prysgeld van R1 000 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.