Gholf: Geen sigare in sig vir Suid-Afrika

Engeland se Lee Westwood. (Foto: AP/Kamran Jebreili)

Louis Oosthuizen kon nie Sondag daarin slaag om die Abu Dhabi-gholfkampioenskap te wen nie, ondanks ’n uitstekende eindpoging. Hy kon darem sy bankbalans met ʼn ontsaglike R5 018 608 laat bult.

Oosthuizen het in die vierde posisie op 273 houe, 15 onder die baansyfer, geëindig.

Hy het die laaste ronde in 66 houe voltooi en ses voëltjies behaal … en ook geen hou aan syfer afgestaan nie.

Die 47-jarige Engelsman Lee Westwood het gewen met ʼn totaal van 269 houe, 19 houe minder as die baansyfer, nadat hy 67 houe in die laaste ronde aangeteken het.

Om sake vir die Suid-Afrikaners verder in te vryf nadat die nasionale krieketspan streepsuiker teen Engeland kry, het twee van Westwood se landgenote, Matthew Fitzpatrick en Tommy Fleetwood, saam met die Fransman Victor Perez (almal op 271) tweede geëindig.

Dit was boonop Fleetwood se 29ste verjaardag en sy 63 houe was die beste van die dag en ʼn ideale verjaardaggeskenk.

Ondanks die gebrek aan ʼn oorwinning was dit ʼn goeie betaaldag vir die rits Suid-Afrikaners, met Shaun Norris (274) in die sesde plek, Erik van Rooyen (276) saam 12de en Branden Grace (277) saam 17de.

Norris het R3 846 810 verdien, Van Rooyen R1 8132 257 en Grace R1 503 213.

Saam het dié viertal dus R12 2009 958 verdien.

Maar niks sou die Oosthuizen-span meer genot verskaf het as om eerste te eindig nie – dis tog waarvoor hulle speel en droom.

* In Hawaii het Ernie Els sy eerste toernooi in die reeks vir senior spelers (ouer as 50 jaar) so ampertjies op ’n wennoot begin.

Dié 50-jarige Suid-Afrikaner, wat vanjaar die eerste keer in die Amerikaanse PGA-reeks vir seniors speel, het Saterdag ’n tweede opeenvolgende ronde van 65 houe op sy telkaart ingevul om saam met die Spanjaard Miguel Angel Jimenez en Fred Couples (VSA) op 14 houe minder as die baansyfer eerste te eindig.

Hulle was in ʼn uitspeelstryd betrokke, met die 56-jarige Jimenez wat ná ʼn voëltjie-sethou van sowat 4 m op die tweede valbyl-putjie as oorwinnaar gekroon is.

Retief Goosen (-12) het vierde geëindig nadat hy met 64 houe afgesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.