Gholf: Gesogte spelerskampioenskap is hier

Rory McIlroy tydens die derde ronde van die Wells Fargo Kampioenskap-gholftoernooi in Charlotte in North Carolina (5 Mei 2018). Foto: Chuck Burton/AP

Gholfliefhebbers kan hulself solank regmaak vir een van die groot gholftoernooie van die jaar.

Sedert die spelerskampioenskap se ontstaan in 1974, en Jack Nicklaus se historiese oorwinning oor J.C. Snead, is die toernooi een van die mees gesogte titels op die PGA-toer. Nicklaus is steeds die enigste speler wat die toernooi drie keer kon wen.

Die spelerskampioenskap begin Donderdag op TPC Sawgrass in Florida. Een van die mees ikoniese putjies in gholf is die syfer drie 17de putjie. Die setperk is in ʼn dam geleë en word heeltemal deur water omring. Dis hiér waar toeskouers in groot getalle rondom die setperk saamdrom om die opwinding mee te maak. Dit is veral wanneer die wind waai dat die poppe begin dans en enige iets op die putjie moontlik is.

Die toernooi word deur baie mense as die sogenaamde vyfde major gesien. Daar is net vyf Suid-Afrikaners onder die 144 spelers wat sal afslaan. Hulle is Branden Grace, Rory Sabbatini, Charl Schwartzel, Louis Oosthuizen en Tyrone van Aswegen.

Die uitstaande groeperings vir die eerste twee dae is Rory McIlroy, Justin Thomas en Jordan Spieth wat op dag een die meeste aandag in die oggendveld sal trek. Die middagveld se fokus sal op Tiger Woods, Phil Mickelson en Rickie Fowler wees wat saam sal afslaan.

Wanneer mens na die top20-spelers op die toernooi se keurlys kyk, is Louis Oosthuizen die opvallende speler. Louis is tans 33ste op die wêreldranglys, maar is vyftiende by die toernooi as gevolg van die feit dat hy verlede jaar gesamentlik tweede geëindig het.

Jason Day is tans vuurwarm en is eerste gekeur. Justin Thomas is die speler wat tans uitstekend is tussen die bof en die setperk en hy is tweede. Die derde plek behoort aan Rickie Fowler wat net nooit ophou om aan te val nie en die skare se gunsteling Rory McIlroy beklee die vierde plek.

Behalwe die gesogte titel is daar boonop die Wêreldranglys, FedEx-beker en geldwennerslys waarom meegeding word. Dit is beslis genoeg rede om enige gholfer bo sy vermoëns te laat speel.

Die toernooi begin Donderdag 10 Mei en eindig Sondag 13 Mei.

Meer inligting hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.