Gholf: Grace en Higgo laat die SA vlag wapper

Suid-Afrika se Branden Grace. Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP.

Met Suid-Afrika se Louis Oosthuizen wat steeds herstel van ʼn besering wat sy deelname aan die onlangse Amerikaanse Meesters op Augusta tot net een ronde beperk het, is dit in die hande van Branden Grace, Garrick Higgo, Charl Schwartzel en Christiaan Bezuidenhout om die nasionale vlag te laat wapper by die Zurich Classic of New Orleans-gholftoernooi vir spanne wat in Louisiana beslis word.

Grace en Higgo het 65 houe in die tweede ronde van dié toernooi aangeteken wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Dit bied ʼn ongelooflike prysgeld van R128 miljoen.

Grace-hulle is saam vierde (129, -15) en is net twee houe agter die voorlopers, die Amerikaners Xander Schauffele en Patrick Cantlay, wat op 127 houe geëindig het nadat hulle tellings van 59 en 68 op hul telkaart in die eerste twee rondes op dié windverwaaide baan ingevul het.

Die Engelsman Aaron Rai en David Lipsky van Amerika is saam met Doc Redman en Sam Ryder (albei Amerika) tweede op 128, gevolg deur Grace-hulle.

Met Schwartzel en Bezuidenhout het dit nie só voorspoedig gegaan nie en hulle is saam 22ste op 135 houe, maar steeds in die wedloop.

ʼn Vyfde Suid-Afrikaner, Dawie van der Walt, en sy Australiese spanmaat, Brett Drewitt (146), kon nie die afsnypunt haal nie.

Saterdag se derde ronde word volgens die beterbal-formaat beslis.

* In Tarragona in Spanje is Suid-Afrika se Hennie du Plessis (134, -6) in die negende posisie ná die tweede ronde van die Handa-kampioenskapstoernooi wat deel is van die Europese reeks.

Die Skot Scott Jamieson (129, -11) is met twee houe voor Tapio Pulkannen van Finland, gevolg deur Spanje se Adrian Otaegui (132) en Lukas Nemecz (Switserland), Richard Mansell (Engeland), Johannes Veerman (Amerika), die Skot David Law en Rasmus Højgaard van Denemarke, wat almal saam op 133 is.

Suid-Afrika se Darren Fichardt en Thriston Lawrence is saam op 136, gevolg deur Louis de Jager op 138, met Justin Walters, Zander Lombard, Daniel van Tonder en Oliver Bekker, wat almal saam op 139 houe is.

* By die Dainfern-buiteklub, wat tussen Johannesburg en Pretoria geleë is, slaan Ockie Strydom (129, -12) Saterdagmiddag in die derde ronde as die voorloper af in die Spelerskampioenskap nadat hy tellings van 66 en 63 in die eerste twee rondes aangeteken het.

Dié toernooi is deel van die Sonskynreeks.

Strydom word gevolg deur Jaco Ahlers (131) en Keith Horne en Jaco Prinsloo (albei op 132).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.