Gholf: Grace sak uit in Nederland

Suid-Afrika se Branden Grace. Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP.

Die meeste aandag is reeds op die Ryderbeker-toernooi gevestig wat aanstaande naweek by Whistling Straits in Wisconsin in Amerika tussen die gholfspanne van Amerika en Europa beslis word. Aanhangers moet egter geensins dink dat daar hierdie naweek nie steeds elders gewedywer word nie.

Met die Suid-Afrikaners wat in die Amerikaanse PGA-reeks speel en nie by die Ryderbekertoernooi betrokke is nie, het Branden Grace sy fokus na Europa verskuif waar hy in Cromvoirt aan die Nederlandse Ope deelneem.

Sake het nie te voorspoedig vir Grace verloop nie, want hy is ná die tweede ronde op 140 houe saam met Wilco Nienaber in die gesamentlike 39ste posisie.

Die toernooi-voorloper is die Sweed Kristoffer Broberg (132, -12) met Marcus Helligkilde van Denemarke en Thomas Detry (België) saam tweede op 133, gevolg deur Maxmillian Kiefer (Duitsland) en Niall Kearney (Ierland) saam vierde op 134.

Justin Harding van Suid-Afrika is saam negende op 136, met Louis de Jager op 139.

George Coetzee en Brandon Stone is albei op 141 houe.

* Op die Mount Edgecombe-baan in Umhlanga, is die Brasiliaan Adilson da Silva en Louis Alberts van Suid-Afrika saam voor ná die tweede ronde van die Vodacom Origins of Golf-toernooi wat deel van die Sonskynreeks is.

Da Silva en Alberts het albei 135 houe aangeteken en word gevolg deur Ockie Strydom op 136 met Deon Germishuys, CJ du Plessis, Riekus Nortjé en Keenan Davidse almal saam op 137.

Die toernooi word oor drie rondes beslis.

* In die Fortinet-kampioenskap, wat deel uitmaak van die Amerikaanse PGA-reeks en in Napa, Kalifornië, gespeel word, loop die onbesonge Amerikaner Maverick McNealy op 132 houe voor.

Suid-Afrika se Dawie van der Walt is op 138 saam 17de nadat hy tellings van 68 en 70 op sy telkaart ingevul het.

* In die Europese reeks vir vroue wat by Chemin de Courmateau in Medoc gespeel word, loop Céline Boutier van Frankryk voor op 134 houe ná die tweede ronde van die Franse Ope.

Virginia Elena Carta (Italië), Magdalena Simmermacher (Argentinië) en Kylie Henry (Skotland) is saam tweede op 135 houe.

Suid-Afrika se Nicole Garcia en Casandra Hall (albei 144) is saam 47ste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.