Gholf: Grace skep miljoene in Washington

Branden Grace (Foto:
Mike McAllister/Twitter)

Die Amerikaner Harold Varner III het vroeg Maandagoggend ʼn verbete aanslag van Suid-Afrika se Branden Grace in die derde en laaste ronde van die LIV-toernooi by die Trump National-baan in Washington DC afgeweer voordat hy sy eerste toernooi op tuisbodem kon wen.

Varner het op -12 geëindig, een hou beter as dié van Grace (-11), met Mito Perreira van Chili (-10) derde.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen was sewende (-7), met Dean Burmester 17de (-3) en Charl Schwartzel 29ste (-1).

In die spanafdeling was die Suid-Afrikaners se Stinger-span tweede (-24), met Torque (-27) wat voor geëindig het.

Die RangeGoats (-19) was derde.

Die vier Suid-Afrikaners het weer baie breed geglimlag nadat hulle sowat twee weke gelede in Tulsa ook die spanafdeling gewen het.

Grace, wat briljant vertoon het, se prysgeld vir sy tweede plek was ʼn ongelooflike 2,25 miljoen Amerikaanse dollar (sowat R44 miljoen), met Oosthuizen (bykans R12 miljoen), Burmester (R5,8 miljoen) en Schwartzel (R3,5 miljoen) wat ook met stywe bankrekenings spog.

Voeg daarby die R19,6 miljoen wat hulle in die spanafdeling verdien het en dit bring hulle uit by bykans R84 miljoen vir drie dae se spel.

Plaas dit in perspektief: Grace het 205 houe gespeel, wat beteken het dat hy met elke hou bykans R214 00 verdien het.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Charles Schwab-toernooi wat in Texas beslis is, het die Argentyn Emiliano Grillo die uitskietstryd teen die Amerikaner Adam Schenk gewen. Albei het op 272 (-8) geëindig, met die Engelsman Harry Hall, wat vir drie rondes voorgeloop het, saam met Scottie Scheffler derde op 273 (-7).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het 21ste op 279 geëindig.

* In die plaaslike  Sonskynreeks het Louis Albertse die KitKat Cash and Carry-toernooi met vier houe gewen, hoewel hy ná die Sonskynreeks gesê het dat dit gevoel het asof hy die hele dag berge by die Irene-buiteklub moes uitklim.

Albertse het op 265 houe (-23) geëindig, met Kyle Barker (269, -19) tweede, gevolg deur die jong Sean Cronjé (271, -17) derde. Die 22-jarige Cronjé het 64 houe in die laaste ronde aangeteken.

Wynand Dingle en Malcolm Mitchell was saam vierde (272, -16) met Jovan Rebula sesde (273, 15).

* In die Europese DP World Tour se KLM-0pe wat in Cromvoirt beslis is, het Suid-Afrika se 23-jarige Deon Germishuys lank in die vierde ronde voorgeloop, maar in die pylvak uitgesak.

Spanje se Pablo Larrazabal was eerste (275, -13), gevolg deur sy landgenoot Adrian Otaegui (277, -11), met Germishuys en Rasmus Hojgaard van Denemarke saam derde (278, -10).

Germishuys het tellings van 70 71 68 en 69 aangeteken en ʼn blink toekoms wag op hom.

Louis de Jager het op 285 houe geëindig met Jayden Schaper verder terug op 290.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.