Gholf: Griep trek Tiger plat

Die legendariese gholfspeler Tiger Woods maak sy terugkeer. (Argieffoto: Andrew Reddington/Getty Images/AFP)

Die kollig was veronderstel om helder op Tiger Woods in die Genesis-uitnodigingsgholftoernooi by die Riviera-buiteklub in Kalifornië te skyn, maar toe word dit deur griep uitgedoof.

Woods, wat slegs in ʼn paar toernooie vanjaar speel ná sy ernstige motorongeluk drie jaar gelede en daaropvolgende enkel- en voetoperasies, het 72 houe in die eerste ronde van dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks aangeteken.

Hy kon in die tweede ronde net tot by die sewende putjie vorder voordat hy halt geroep het nadat hy erg dronkerig gevoel het.

Woods is met ʼn gholfkarretjie terug klubhuis toe waar hy mediese behandeling ontvang het en hom moes onttrek het. Woods was in daardie stadium twee houe oor baansyfer en sou na alle waarskynlikheid nie vir die laaste twee rondes kon kwalifiseer nie.

In sy afwesigheid het die Amerikaner Patrick Cantlay na vore geskiet om die voortou met vyf houe te neem nadat hy op 129 houe (-13) geëindig het.

Cantlay word in die tweede posisie deur die Australiër Jason Day, Luke List (Amerika) en die Kanadees Mackenzie Hughes gevolg wat almal saam op 134 houe (-8) geëindig het.

Die Suid-Afrikaner Christiaan Bezuidenhout, wat sy 69 houe in die eerste ronde met dieselfde telling in die tweede ronde opgevolg het, het op 139 houe (-4) in die klubhuis afgesluit en is saam 11de.

Die Amerikaner Will Zalatoris het 70 houe in die tweede ronde aangeteken nadat hy op vyf putjies houe aan baansyfer afgestaan het.

Maar sy geluk het gehou toe hy op die 14de putjie ʼn kolhou behaal het. Hy en sy joggie, Joel Stock, is albei met luukse motors wat byna R1,2 miljoen kos, beloon.

* By Fancourt in George het die Fransman David Ravetto reën en wind oorkom om die voortou ná die tweede ronde van die Dimension Data Pro-Am, wat deel is van die Sonskynreeks, met een hou te neem.

Ravetto het op die Outeniqua-baan 66 houe in die tweede ronde aangeteken en op 134 houe in die klubhuis geëindig.

Sy telling is een hou beter as dié van Suid-Afrika se Louis Albertse (135, -9), met Zander Lombard en Pierre Pineau (Frankryk) wat op 136 houe (-8) in sy nek blaas.

Hulle word in die vyfde posisie gevolg deur Sam Hutsby van Engeland, met Suid-Afrika se Robin Williams en Hennie du Plessis en die Dene Rasmus Neergaard-Petersen en Hamish Brown asook Conor Purcell van Ierland saam sesde op 138 houe (-6).

* In die Europese reeks vir vroue is Suid-Afrika se Paula Reto (140 houe, -4) saam vierde ná die tweede ronde van die Saoedi-toernooi wat by die Riyadh-buiteklub gespeel word.

Paphangkorn Tavatanakit van Thailand loop op 136 houe (-8) met een hou voor Manon de Roey van België en Nicole Broch Estrup van Denemarke (albei 137 houe, -6) met Reto vierde.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai is ná rondes van 73 en 70 houe op 143 (-3) saam 17de.

Bronne: The Golf Channel en Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.