Gholf: Grofgeskut maak hul stem dik by SA Ope

Foto: SA Open/Twitter

Suid-Afrika se topdrie spelers op die wêreldranglys (Louis Oosthuizen, Brandon Grace en Charl Schwartzel) staan stewig ná twee rondes van die SA Ope.

Ernie Els het met ʼn eerste ronde van 66 die vroeë voortou geneem op dag een van die 108ste SA Ope-toernooi by die Randparkklub in Randburg. Dit was egter Louis Oosthuizen wat ʼn uitstekende 62 gespeel het om die voortou ná die eerste ronde te neem. Nou, ná dag twee, behoort die bopunt van die voorlopersbord aan Charl Schwartzel op -12. Charl het ses voëltjies en ʼn arend aangeteken vir ʼn ronde van 63 (op die Bushwillow-baan) om die kollig te steel.

Beide bane het moeiliker gespeel na die vorige nag se reën en daar was ook ʼn volgehoue wind wat sake moeilik gemaak het. Die laaste twee rondes sal slegs op die Firethorn-baan gespeel word. Die groot trekpleister van hierdie toernooi is die drie plekke by aanstaande jaar se Britse Ope wat op die spel is.

Louis Oosthuizen het reeds die oudste Ope in Gholf, naamlik die Britse Ope, gewen. In sy strewe om die tweede oudste toernooi ook te wen het hy vandag ʼn ronde van 70 aangeteken om op -10 te wees. Sy drie voëltjies in ʼn ry op die twaalfde, dertiende en veertiende het momentum aan sy terugveg poging gegee nadat hy op die eerste putjie vandag ʼn hou aan syfer afgestaan het.

Op die voorlopersbord is daar ses Suid-Afrikaners onder die top tien spelers.

1 Charl Schwartzel -12
2 Madalitso Muthiya -11
3 Louis Oosthuizen -10
Zander Lombard -10
Kurt Kitayama -10
6 Jbe’ Kruger -9
Mark Williams -9
8 Branden Grace -8
Matt Wallace -8
10 Thomas Aiken -7

Van die bekendes wat nie die kwalifisering van -2 vir die laaste twee rondes kon haal nie, is Trevor Immelman, George Coetzee en Justin Harding (die voorloper op die meriete-ordelys).

Onder die amateurs het Jovan Rebula die beste gevaar en hy is op -5 na twee rondes.

Daar was 240 spelers wat meeding het om te kwalifiseer vir die laaste twee rondes. Net die voorste 70 spelers en gelyk aan dié telling sal môre en Sondag in aksie wees. Die afsnypunt was -2.

Teen Sondagmiddag (as die weer saamspeel) behoort ons te weet of ʼn Suid-Afrikaner vanjaar die SA Ope se wennerskleed dra. Die prysgeld beloop R17.5 miljoen.

Meer inligting is hier beskikbaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.