Gholf: Harding rooiwarm in die woestyn

Argieffoto van Justin Harding . (Foto: Justin Harding/Facebook)

Suid-Afrika se Justin Harding steek steeds tong uit ná die tweede ronde van die geldryke Dubai Desert Classic-gholftoernooi wat op die Emirates-baan in Dubai beslis word, met sy landgenoot Erik van Rooyen en ʼn rits ander Suid-Afrikaanse spelers wat die nasionale vlag ook hoog in dié woestynstad laat wapper het.

Dit is nogal ironies hoe die Britse en Europese media Harding-hulle se blink vertonings effe na links geskuif het, want dit was net Rory McIlroy (Noord-Ierland) en Tyrrell Hatton (Engeland) voor en agter in hul berigte.

Wat het dan van Harding, ʼn oudleerling van Paul Roos-gimnasium in Stellenbosch, en Van Rooyen (Hoërskool Oudtshoorn) se uitmuntende spel geword?

Harding het die tweede ronde in 68 houe voltooi nadat hy 65 houe in die eerste ronde behaal het. Hy is op 133 twee houe voor Hatton (135).

Van Rooyen en die Italianer Fabrizio Zanotti is saam derde op 136. Van Rooyen het 67 houe in die tweede ronde aangeteken en Zanotti 70.

Hulle word deur vyf spelers, Joachim B Hansen (Denemarke), Viktor Hovland (Noorweë), Adrian Meronk (Pole), McIlroy (Noord-Ierland) en Richard Bland (Engeland), gevolg, wat almal op 137 houe geëindig het.

Van die ander Suid-Afrikaners het Brandon Stone (140, 14de), Justin Walters (141), George Coetzee (142), Garrick Higgo (143), Charl Schwartzel (143) en Daniel van Tonder (144) ook vir die laaste twee rondes gekwalifiseer, maar Dean Burmester (145), Thriston Lawrence (152) en Darren Fichardt (156) kon nie die afsnypunt haal nie.

Harding, wat agt voëltjies in Donderdag se eerste ronde aangeteken het, het dit met vier voëltjies en ʼn arend 2 op die sesde putjie opgevolg. Ongelukkig het hy houe aan baansyfer op die 15de en 17de putjies afgestaan, anders was hy nog verder voor.

* Op die Torrey Pines-baan in San Diego, Amerika, is die Amerikaner Will Zalatoris en die Aussie Jason Day (albei 202) saam voor ná die derde ronde van die Farmers Insurance-toernooi wat deel van die Amerikaanse PGA-reeks uitmaak.

Hulle word gevolg deur Jon Rahm (Spanje) en Aaron Rai van Engeland (albei op 203).

* In die Bainbridge LPGA-toernooi vir vroue wat op die Boca Rio-baan in Florida beslis word, loop die Nieu-Seelander Lydia Ko en die Amerikaner Danielle Kang (albei 133) saam voor ná die tweede ronde.

Ko, wat 63 houe in die eerste ronde aangeteken het, kon net 70 houe in die tweede ronde aanteken, maar sy het haar voorsprong behou.

Yuka Sasa (Japan) en Jodi Ewart (Engeland) is saam vierde op 137.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.