Gholf: Higgo trap in Dustin Johnson se spoor

Suid-Afrika se Garrick Higgo (Foto: Ben Stansall/AFP)

Wanneer jy die naam Dustin Johnson in Amerikaanse gholfkringe noem, sal almal regop sit. Maar as jy die naam Garrick Higgo sê, sal die oorgrote meerderheid vra, “wie?”

Maar ná gister se onvoltooide derde ronde van die Palmetto-gholfkampioenskap wat by Congaree in Miami, Florida beslis word, sal die meeste ondersteuners kennis geneem het van dié talentvolle 22-jarige Suid-Afrikaner.

Higgo, wat pas sy derde rondte in dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks voltooi het, was op 205 die klubhuisvoorloper. Hy het reeds 16 voëltjies in sy drie rondtes aangeteken, maar ongelukkig ook op ʼn paar putjies verbrou.

Johnson (-8) was nog op die baan (17de) toe dit begin reën het en die dag se spel ná twee ure afgelas is oor weerlig.

Die Amerikaner Chesson Hadley, wat pas sy bofhou op die 18de geslaan het toe die sirene geblaas het, is vyf houe (-14) voor sy landgenoot Harris English (-10) wat ook op die 18de bof was, gevolg deur Higgo en Johnson (-8) in die derde posisie.

Erik van Rooyen (208, -5) en Wilco Nienaber (210 -3) het hul rondtes voltooi en bly in die binnebaan.

* In die Skandinawiese toernooi vir mans en vroue, wat buite Gotenburg in Swede beslis word, is daar ʼn bottelnek op die voorlopersbord.

Alice Hewson van Engeland, Caroline Hedwall (Swede), Jason Schrivener (Australië) en Rhys Enoch van Wallis is saam voor op 204, 12 houe onder die baansyfer in die unieke toernooi in die Europese reeks waaraan mans en vroue saam om prysgeld van bykans R17 miljoen meeding.

Jacques Kruiswijk (209) is die beste geplaas onder die Suid-Afrikaners nadat Darren Fichardt, wat vuurwarm geblaas het in die tweede ronde, in die derde ronde ʼn sukkelende 77 houe aangeteken het.

Die 46-jarige Fichardt is op 210 houe, ses onder die baansyfer.

* In die LPGA se Mediheal-kampioenskap vir vroue wat by die Lake Merced-buiteklub in Kalifornië plaasvind, is Ashleigh Buhai van Suid-Afrika op 212 houe (-4), net vyf houe agter die voorloper Min Lee van Korea (207, -9).

Min Lee word gevolg deur Matilda Castren van Finland en Lauren Kim van die VSA (almal op 209).

Buhai het rondtes van 71, 71 en 70 houe aangeteken.

* In die American Family Insurance-toernooi vir seniors wat in Wisconsin beslis word, klou die Spanjaard Miguel Angel Jimenez (134) aan sy voorsprong bo Fred Couples (135).

Suid-Afrika se Retief Goosen, Jim Furyk en Jerry Kelly is almal in die derde plek op 136.

Ernie Els (144) is 33ste in dié toernooi wat oor drie rondes beslis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.