Gholf in 2021: Louis dra steeds die kroon

Louis Oosthuizen (Las Vegas, Nevada) (10 Oktober 2021) (Foto: Alex Goodlett/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Wanneer daar kopgekrap word oor watter Suid-Afrikaner vanjaar die beste in wêreldgholf gevaar het, is daar net een antwoord: Louis Oosthuizen.

Die 36-jarige Oosthuizen, wat tiende op die jongste wêreldranglys is, het die room voor menige ander wêreldsterre en ʼn rits Suid-Afrikaners afgeskep.

Watter ander speler kan met twee tweede plekke in twee van gholf se Major-toernooie (Amerikaanse Ope en Amerikaanse PGA) en ʼn derde plek in die Britse Ope in 2021 stry? Wie kan met prysgeld van R110 832 760 in 2021 meeding?

Ja, daar is opkomende sterre soos Christiaan Bezuidenhout (48ste op die ranglys), Garrick Higgo (58ste), Erik van Rooyen (63), Branden Grace (65) en Dean Burmester (66), wat hom uitdaag, maar nie een kon saam met Oosthuizen gesels nie.

Hulle beurt sal nog kom, maar eers wanneer hulle deur die meule is.

Oosthuizen, of Koning Louis soos hy bekend staan, het die agtste opeenvolgende jaar vir die FedEx-beker se uitspeelrondes gekwalifiseer nadat hy negende op die puntelys geëindig het.

Hy het ook die vierde keer vir die Toer-kampioenskap, waaraan slegs die wêreld se voorste spelers meeding, gekwalifiseer.

Hy was ook by agt geleenthede tussen die toptien en het net een keer in 21 toernooie nie die afsnypunt gehaal nie.

Hy was voor ná drie rondes in die Britse Ope voor voordat hy saam derde geëindig het. Hy het ook die eerste speler in die Britse Ope (en die tweede in Major-toernooie) geword wat die eerste twee rondes in minder as 130 houe (129) kon voltooi het.

Hy was ook ná drie rondes in die Amerikaanse Ope voor voordat hy tweede geëindig het. Netso was hy tweede in die Amerikaanse PGA, die sesde keer dat hy tweede in ʼn Major geëindig het.

Saam met Charl Schwartzel het hulle kleingeld gemaak van die res in die Zurich Classic-spantoenooi en in September was hy derde in die Amerikaanse Ope.

Jong Turke soos Higgo, Wilco Nienaber en Jaden Schaper hou Oosthuizen-hulle op hul tone, maar hulle sal veel langer moet wag voordat hulle die kroon kan dra.

Bron: American PGA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.