Gholf in Abu Dhabi: geen sigaar vir SA spelers

Tyrrell Hatton. Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP

Die Suid-Afrikaanse gholfaanslag het Sondag in Abu Dhabi saam met dié van die Noord-Ier Rory McIIroy gekwyn.

Die Abu Dhabi-toernooi is verspot maklik deur die Engelsman Tyrrell Hatton (270) met vier houe gewen nadat hy die laaste ronde in 66 houe voltooi het.

Die Aussie Jason Scrivener (274) was tweede, gevolg deur McIIroy (275) wat die laaste ronde in 72 houe voltooi het en nooit kon vlamvat nie nadat hy ná die eerste en derde rondes voor was.

Suid-Afrika se George Coetzee (279) was agtste nadat hy 70 houe in die laaste ronde op sy telkaart ingevul het. Hy is in die negende posisie deur Christiaan Bezuidenhout (280) gevolg.

Coetzee het weliswaar vier voëltjies in die laaste ronde aangeteken, maar sy telkaart bederf deur op twee putjies houe aan baansyfer af te staan.

Bezuidenhout was bestendig, maar kon net een voëltjie in sy 71 aanteken.

Nogtans het Coetzee sy bankbalans met R1,9 miljoen verstewig terwyl Bezuidenhout bykans R1,8 m verdien het.

Hatton het op 18 houe onder die baansyfer geëindig en afgesien van Scrivener, wat die eerste nege putjies in 29 houe voltooi het, was sy voorsprong selde onder druk.

Hatton is een van die jong Turke van gholf nadat hy in 2018 sy Ryderbeker-buiging gemaak het en verlede jaar die eerste keer in die Amerikaanse PGA-reeks geseëvier het.

Hy het nou reeds ses toernooie in die Europese reeks gewen en hy het die Spanjaard Jon Rahm se rekord van vier seges in die Rolex-reeks geëwenaar nadat hy vroeër die Italiaanse Ope (2017), Turkse Ope (2019) en BMW-kampioenskap (2020) gewen het.

Hy sal na verwagting Maandag tot die wêreld se vyfde beste speler opskuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.