Gholf: Jarvis ewenaar laagste telling nog in Sonskynreeks

Casey Jarvis (Foto: Casey Jarvis/Instagram)

Die 19-jarige Casey Jarvis kan dalk beskryf word as nog nat agter die ore wat sy ouderdom betref, maar dié jong Oos-Randse gholfmeester het hom reeds in die rekordannale gevestig.

Jarvis, wat in 2017 die Engelse o.14-amateurtitel gewen het en met ʼn magdom ander oorwinnings spog, het reeds meer as R1 miljoen aan prysgeld in die DP World Tour verdien.

Hy het Saterdag by die Dainfern-buiteklub tussen Johannesburg en Pretoria nog ʼn unieke prestasie behaal toe hy die laagste rondtetelling in die Sonskynreeks geëwenaar het toe hy 59 houe in die derde ronde van die Stella Artois Spelerskampioenskappe aangeteken het.

Jarvis, wat vanuit die State Mines-gholfklub tussen Brakpan en Boksburg speel, het volgens die Sonskynreeks die vorige rekord wat Peter Karmis in 2009 in die Lombard Classic-toernooi op die Royal Swazi-gholfbaan in eSwatini opgestel het, geëwenaar.

Jarvis se 59, wat 13 houe minder as die baansyfer is, het sewe voëltjies oor die eerste nege putjies ingesluit, wat hy in 29 houe voltooi het.

Hy het dit opgevolg met nog twee voëltjies en twee arende oor die volgende nege, wat hy in 30 houe voltooi het.

Die ironie is dat Jarvis, ondanks sy magiese ronde, steeds twee houe agter sy Suid-Afrikaanse landgenoot Luca Filippi is, wat op 194 (-22) geëindig het.

Die 23-jarige Filippi het die derde ronde in 66 houe voltooi en nadat hy tellings van 64 en 64 in die eerste twee rondes op sy telkaart ingevul het, is hy stewig op koers na ʼn oorwinning.

Jarvis is saam met Lyle Rowe op 196 (-20) met Kyle Barker vierde op 197 (-19) en Rupert Kaminski en Jaco van Zyl (albei 198, -18) saam vyfde.

Tussendeur Jarvis se magiese telling, het Filippi die tweede keer in dié toernooi 29 houe oor nege putjies aangeteken. Boonop het Daniel van Tonder R200 000 by die borge losgeslaan toe hy ʼn kolhou op die 16de putjie (syfer 3) aangeteken het.

*  In die Amerikaanse PGA-reeks se RBC Heritage-toernooi wat by Hilton Head Island beslis word, loop die Engelse speler Matt Fitzpatrick, wat in 2022 die Amerikaanse Ope gewen het, op 199 (-14) met een hou voor Patrick Cantlay van Amerika (200, -13).

Hulle word gevolg deur nog ʼn Amerikaner Jordan Spieth op 201 (-12).

Fitzpatrick se landgenoot Tommy Fleetwood is saam met die Amerikaners Scottie Scheffler, Mark Hubbard, Taylor Moore en Jimmy Walker op 202 (-11).

Suid-Afrika se Ernie Els, wat 71 houe in die derde ronde aangeteken het, is 46ste op 209 (-4) gevolg deur sy landgenote Christiaan Bezuidenhout (210, -3) en Garrick Higgo (212, -1).

* In die Amerikaanse LPGA-reeks wat in Hoakalei in Hawaii gespeel word, loop Grace Kim van Australië, Yu Lui van China en Yu-Jin Sung van Korea (-12) saam voor ná die derde ronde van die Lotte-kampioenskap.

Hulle word deur Peiyun Chien van Chinese Taipei en Linnea Stroem van Swede gevolg op -11.

Georgia Hall van Engeland, die Amerikaner Lauran Hartlage en Natthakritta Vongtaveelap van Thailand is op -9.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.