Gholf: Justin Harding op kruin van golf

Argieffoto van Justin Harding . (Foto: Justin Harding/Facebook)

Die 24-jarige Amerikaner Aaron Wise was in die derde ronde van die Honda Classic-gholftoernooi in die Amerikaanse PGA-reeks toe nie heeltemal so wys soos wat sy van aandui nie. Dié reeks word in die deelstaat Florida beslis.

Wise, wat ʼn voorsprong van drie houe ná die tweede ronde gehad het en in ʼn stadium met agt houe voor was, het op vier van die laaste vier putjies in die derde ronde houe aan baansyfer afgestaan en op 75 houe geëindig.

Die Australiër Matt Jones (200) is die voorloper nadat hy 69 houe in die derde ronde aangeteken het. Hy word gevolg deur Wise en nog ʼn Amerikaner, JB Holmes (albei 203), met die Koreaan CT Pan en nog twee Amerikaners, Cameron Tringale en Sam Ryder, al drie op 204.

Die Suid-Afrikaner Erik van Rooyen (209) staan stewig nadat hy 69 in die derde ronde aangeteken het.

Charl Schwartzel (21) is ʼn verdere hou terug in die gesamentlike 41ste posisie.

* In Nairobi staan Justin Harding van Suid-Afrika op die drumpel van ʼn oorwinning in die Kenia-ope, wat deel is van die Europese reeks en by die Karen-buiteklub gespeel word.

Harding, wat twee jaar gelede tweede geëindig het nadat hy 66 houe in die laaste ronde aangeteken het, het Saterdag 64 houe in die derde ronde aangeteken om op 197 (-16) met twee houe voor die Australiër Scott Hend en die twee Amerikaners, Kurt Kitayama en Johannes Veerman, voor te loop.

Die Skot Callum Hill (200) is vierde en die Fransman Jean Baptiste Gonnet (201) vyfde.

Harding het 66, 67 en 64 in die eerste drie rondes aangeteken.

Dean Burmester, Garrick Higgo en Jayden Schaper (almal 203) is ook in die wedloop met Wilco Nienaber en George Coetzee (albei op 207) en JC Ritchie (208) ook stewig in die saal.

* Op die Ebotse-linksbaan in Benoni slaan die Suid-Afrikaner Niel Schietekat (200) Sondag as die voorloper in die laaste ronde van die Gauteng-kampioenskap af.

Schietekat word gevolg deur Jbé Kruger (201), MJ Viljoen (202) en Marcus Rohwer en Ockie Strydom (albei 203).

Die Brasiliaan Adilson de Silva is op 204, gevolg deur Jean Hugo, Michael Anthony, Tristen Strydom en Hennie Otto (almal op 204).

Schietekat het tellings van 69, 62 en 69 op sy telkaart ingevul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.