Gholf: Kan ʼn SA’ner wéér die Nedbank-Uitdaging wen?

Argieffoto (Foto: HeungSoon/Pixabay)

Hierdie week is alle aandag in Suid-Afrika op die Nedbank-Uitdaging op Sun City. Verlede jaar het Branden Grace die eerste Suid-Afrikaner, sedert Trevor Immelman in 2007, in tien jaar geword om met die louere weg te stap.

Dié toernooi begin Donderdag en duur tot Sondag op die Gary Player-buiteklub by Sun City. Die toernooi word Woensdag voorafgegaan met die inhuldiging van Dale Hayes in die Suid-Afrikaanse Heldesaal by Sun City.

Die eerste toernooi by Sun City was in 1981 (36 jaar gelede) gespeel toe dit bekend gestaan het as die “Miljoen Dollar-uitdaging” en daar toe net vyf spelers was wat sake uitgepook het.

Twee en sewentig spelers sal hulle stokke vanjaar in al vier rondes swaai. Die feit dat die toernooi die tweede laaste in die wedloop na Doebai is, verseker dat die room van die Europese spelers in aksie sal wees.

Verlede jaar het reën spel ʼn paar keer onderbreek en die ander vraag is of die hitte in die Pilanesberg sy tol onder die internasionale spelers gaan eis. Die organiseerders sou meer reën die afgelope tyd wou gehad het maar hulle is tevrede dat die baan steeds ʼn goeie uitdaging aan die spelers gaan stel. Die 18de putjie spog ook met ʼn splinternuwe bof wat 25 meter verder terug is.

Die top name onder die oorsese spelers is Rory McIlroy, Sergio Garcia, Lee Westwood en Thomas Bjørn.

Onder die Suid-Afrikaners moet die verdedigende kampioen, Branden Grace (48ste) en Louis Oosthuizen (39ste op die wêreldranglys) beslis ʼn kans staan om voor die plaaslike ondersteuners met die louere weg te stap. Charl Schwartzel jaag sy eerste Nedbank-titel saam met ander Suid-Afrikaners soos Dylan Frittelli, Haydn Porteous, George Coetzee, Brandon Stone, Richard Sterne en Dean Burmester.

Die toernooi begin Donderdag 8 November en duur tot Sondag 11 November. Die prysgeld beloop nagenoeg R110 miljoen.

Meer inligting is hier beskikbaar 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.