Gholf: Koepka kraai koning in tweede major

Brooks Koepka hou sy trofee vas nadat hy koning gekraai het in die 118de Amerikaanse Ope Gholftoernooi (17 Junie 2018). Foto: Carolyn Kaster/AP

Die wêreld se voorste spelers het mekaar van Donderdag tot Sondag (14 tot 17 Junie) die stryd aangesê in die 118de Amerikaanse Ope- gholftoernooi. Vanjaar se toernooi is op Shinnecock Hills net buite New York gespeel.

Ná die eerste ronde was daar net vier spelers onder syfer nadat sterk wind sake baie moeilik gemaak het. Verskeie top-spelers kon nie vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie. Onder hulle was Bubba Watson, Tiger Woods, Jason Day, Jordan Spieth en Rory McIlroy.

Die baan was in alle opsigte baas en toe die laaste ronde aanbreek was geen speler onder syfer nie.

Brooks Koepka was die wenner van die toernooi ná ʼn finale ronde van 68 houe. Sy totaal na die vier rondes was 281 houe wat +1 was. Tommy Fleetwood het ʼn uitstekende laaste ronde van 63 gespeel om tweede te eindig op +2. Die wêreld se voorste speler, Dustin Johnson, het die derde plek ingeneem nadat hy op +3 geëindig het.

Die eerste major van die jaar, die Amerikaanse Meesters, is in April op Augusta deur Patrick Reed gewen. Reed was die naweek vierde op +4.

Louis Oosthuizen het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar en was 16de op +10. Branden Grace het op sy beurt 25ste geëindig op +12.

Van die ses Suid-Afrikaners het Branden Grace, Louis Oosthuizen en Dean Burmester vir die laaste twee rondes gekwalifiseer.

Die Suid-Afrikaners wat die toernooi al kon wen is Gary Player, Ernie Els (1994 en 1997) en Retief Goosen (2001 en 2004).

Die volgende major is die Britse Ope wat van 19 tot 22 Julie beslis sal word.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

GGolf ·

Fleetwood het n fantastiese rondte gehad, was n goeie, baie goeie naweek van golf. Dié seisoen is darm maar vreeslik goed sover, en nog 2 majors om te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.