Louis verbrou sy kanse

Louis Oosthuizen Saterdag tydens die Toerkampioenskap in Atlanta, Georgia. (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

Dit het gelyk of Louis Oosthuizen die voorlopers skrik gaan maak by die Toerkampioenskap, maar toe val die wiele af.

Die Suid-Afrikaner het drie voëltjies aangeteken op die eerste vier putjies van sy derde ronde om in die gesamentlike derde plek in te skuif. En dit was die einde van sy opmars. Brouhoue op die sewende, agste, tiende, twaalfde en veertiende putjies het sy ronde verongeluk. Oosthuizen (-7) kon darem op die sewentiende weer ʼn voëltjie aanteken, maar sy 71 houe het hom laat terugsak tot die twaalfde plek.

Die Amerikaner Patrick Cantlay (-20) het die toernooi met ʼn voorgee van -10 begin as voorloper op die Fedex-punteleer en nog tien houe onder baansyfer daarby gevoeg. Hy is nou twee houe voor die Spanjaard Jon Rahm (-18) en Justin Thomas (-15) is in die derde plek. Thomas het die beste ronde (65) van die dag gespeel. Cantlay is koel en kalm en as hy nie foute begaan nie, gaan hy moeilik ingehaal word.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen is gelyk aan baansyfer in die gesamentlike 26ste plek.

By die Italiaanse Ope op die Europese toer, is Daniël van Tonder (-12) net een hou agter die voorloper, Nicolai Hojgaard (-13) van Denemarke. George Coetzee is sewe houe agter Hojgaard in die gesamentlike vyftiende plek.

Die vroue van Europa en Amerika is slaags in die eweknie van die Ryderbeker – die Solheimbeker. Europa het op die eerste dag die voortou met 5½-2½ geneem voor ʼn raserige Amerikaanse tuisskare.

Daar was omstredenheid in die vierbalwedstryd tussen die Amerikaners Nelly Korda en Ally Ewing teen Nanna Koerstz Madsen en Madelene Sagstrom van die Europese span. Korda het ʼn set op die dertiende putjie tot op die rand van die putjie geslaan. Sagstrom het die bal opgetel om die Amerikaners ʼn voëltjie te besorg sonder dat hulle die laaste set hoef in te slaan. Dis toe waar die omstredenheid inskop – ʼn reëlsbeampte het die Europeërs ingelig Sagstrom het die bal té vinnig opgetel en daarom kry die Amerikaners ʼn arend en wen die putjie.

Die beampte het uit eie beweging besluit ʼn gedeelte van die bal is oor die rand van die putjie. Reël 13.3 bepaal dan dat ʼn speler redelike tyd gegee moet word om tot by die putjie te stap en dan 10 sekondes kan wag vir die bal om dalk in te val.

Span Europa was omgekrap, maar nadat beamptes beeldmateriaal van die voorval bestudeer het, is besluit dat die beampte se beslissing geldig bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Elmarie

Dit is niks nuuts nie.