Gholf: McIlroy trap stewig vas in Dubai

Rory McIlroy (Argieffoto: Denis Poroy/AP)

Diegene wat gholf speel sal jou in breë trekke kan vertel van alles wat in ʼn ronde verkeerd kan loop, maar dié wat die spel noukeurig volg, sal jou ook kan oortuig dat wanneer die Noord-Ier Rory McIlroy eers sy neus voorgekry het, hy nie maklik die spoor byster sal raak nie.

McIlroy is ná die derde ronde van die geldryke DP World Tour-kampioenskap in Dubai (prysgeld R120 miljoen) op 202 (-14) met een hou voor Sam Horsfield van Engeland gevolg deur die jong Robert MacIntyre van Skotland en Alexander Bjoerk van Swede, wat albei op 204 is.

Die Amerikaners Collin Morikawa en John Catlin, Shane Lowry (Ierland) en Joachim Hansen (Denemarke) is almal op 205, drie houe agter McIllroy.

Suid-Afrika se Dean Burmester is stewig geplaas op 207 ná drie bestendige rondes van 69 en is byna verseker van ʼn yslike tjek, met Christiaan Bezuidenhout op 212, Garrick Higgo op 213 en die Justin Harding op 214.

McIlroy, wat ná sy 65 houe in die eerste ronde voor was, het in tweede ronde 70 houe aangeteken, maar sy voorsprong met 67 in die derde ronde herwin.

Hy het sewe voëltjies in die derde ronde aangeteken en is 14 houe onder die baansyfer. Hy het reeds 18 voëltjies en ʼn arend behaal.

*Die Amerikaner Talor Gooch is in Kalifornië op 196 houe (-18) drie houe voor die Colombiaan Sebastian Munoz en die Ier Seamus Power (albei 199) ná die tweede ronde van die RSM Classic-toernooi wat by die Seaside-oord beslis word.

Hulle word gevolg deur nog ʼn Amerikaner Tom Hoge op 200.

Nie een van Branden Grace, Dylan Frittelli of Dawie van der Walt kon die afsnypunt vryspring nie terwyl Louis Oosthuizen hom ná die eerste ronde onttrek het.

* Op die Tiburon-baan in Florida loop vier spelers, Celine Boutier van Frankryk, Nelly Korda van die VSA, Jin-Young Ko van Korea en Nasa Hataoka van Japan saam voor na die derde ronde van vanjaar se laaste LPGA-toernooi vir vroue, met prysgeld van R78 miljoen.

Mina Harique (VSA) en Gaby Lopez (Mexiko) is op 203 in die toernooi wat die wêreld se voorste vrouespeler sal bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.