Gholf: Mcllroy op Schauffele se spoor

Noord-Ierland se Rory McIlroy. (Foto: Patrick Smith/Getty Images/AFP)

Die Amerikaner Xander Schauffele is reeds die afgelope 38 gholftoernooie segeloos in die Amerikaanse PGA-reeks: die Noord-Ier Rory McIlroy is op pad om dit 39 te maak.

Schauffele is ná die derde ronde van die Wells Fargo-toernooi wat op Quail Hollow in Noord-Carolina gespeel word, steeds die voorloper nadat hy 70 houe aangeteken het.

Hy het op 201 houe (-12) geëindig en is net een hou voor McIlroy, die tweede beste speler op die wêreldranglys.

Die Noord-Ier, wat die toernooi in 2010, 2015 en in 2021 gewen het, het die derde ronde foutloos in 67 houe voltooi. Hy het op 202 houe (-11) in die klubhuis geëindig.

Sungjae Im van Suid-Korea is derde op 205 (-8) met Sepp Straka van Oostenryk op 206 (-7) en die Australiër Jason Day op 208 (-5).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout is 13de op 211 (-2).

* In die Amerikaanse LPGA-reeks vir vroue wat by die Montclair-buiteklub in New Jersey beslis word, is die Amerikaner Nelly Korda se drome aan skerwe om die eerste vrouespeler te word wat ses opeenvolgende toernooie kan wen.

Korda, wat eerste op die vroueranglys is, het in die derde ronde van die Cognizant Founders Cup 11 houe agter Madalene Sagström van Swede en 10 houe agter die jong Rose Chang (20) van Amerika geëindig.

Die 31-jarige Sagström het 66 houe aangeteken en op 197 houe (-19) geëindig.

Sy is op soek na haar tweede oorwinning in die LPGA-reeks en het laas in 2020 gewen.

Korda het 73 houe aangeteken, wat een hou meer as baansyfer was.

Sy is in die derde plek saam met Sei Young Kim van Suid-Korea en Gabriela Ruffels van Australië op 208 (-8).

* Op die Royal Harare-baan het Michael Hollick, wat die beroepspeler by die Mount Edgecombe-buiteklub in Umhlanga aan die KwaZulu-Natalse Noordkus is, sy eerste twee rondes van 66 en 67 met 68 houe in die derde ronde van die Zimbabwiese Ope opgevolg.

Hollick is op 201 (-15) een hou voor die immergroen Darren Fichardt (202, -14).

Die 48-jarige Fichardt het Saterdag 69 houe aangeteken, wat vier voëltjies ingesluit het.

Fichardt word deur Kieran Vincent (Zimbabwe) op 205 (-11) gevolg, wat saam met Michael Anthony van Suid-Afrika derde is.

Nog twee Zimbabwiërs, Benjamin Follet-Smith en Scott Vincent, die ouer broer van Kieran Vincent, is saam met die Suid-Afrikaner MJ Viljoen vyfde op 206.

Bronne: Sonskynreeks en The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.