Gholf: Morikawa op pad na no. 1

Collin Morikawa (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

As die Amerikaner Collin Morikawa (-18) die Hero World Challenge in die Bahamas vandag wen, sal hy die Spanjaard Jon Rahm vervang as die wêreld se no. 1-speler.

Morikawa het ʼn voorsprong van vyf houe voordat die laaste ronde later vandag begin. Hy het gister sy ronde in 64 houe voltooi – agt houe beter as die baansyfer. Sy landgenoot Brooks Koepka is in die tweede plek en sal die laaste ronde saam met Morikawa speel.

Die Amerikaners Daniel Berger, Sam Burns, Tony Finau en Patrick Reed asook Viktor Hovland van Noorweë is ses houe agter.

Die 24-jarige Morikawa speel die gholf van sy lewe nadat hy vroeër vanjaar die Britse Ope gewen het en twee weke gelede die DP World Tour-kampioenskap verower het. Hy is die eerste Amerikaner wat as die voorste speler op die Europese toer gekroon is.

Die derde ronde in die Bahamas was ʼn nagmerrie vir die oornag-voorloper Bryson DeChambeau. Hy is nou agt houe agter Morikawa nadat hy sy ronde in 73 houe voltooi het.

Net 20 genooide spelers neem aan die toernooi deel. Sewentien van hulle is onder die top-25 spelers op die wêreldranglys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.