Gholf: ‘n Week is ‘n lang tyd

Oliver Bekker.(Foto: Gregory Shamus/Getty Images North America/AFP)

Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Oliver Bekker was verlede Sondag in die wolke toe hy eers op die sesde putjie van die uitspeelstryd van die Kataloniese Ope teen die Spanjaard Adri Arnaus Ope verloor het nadat hulle saam eerste geëindig het.

Dit sou Bekker se eerste oorwinning in die Europese gholfreeks gewees het, maar dit het nietemin verskeie deure vir hom laat oopswaai.

Vrydag op The Belfry in Sutton Coldfield in Engeland het die onweerswolke binne ʼn paar dae om Bekker saamgepak en was hy in ʼn oorlewingstryd om die derde ronde van die Britse Meesters te haal.

Dit was dié keer die beurt van nog ʼn onbesonge speler, die 26-jarige Duitser Hurly Long, om die kollig in ʼn toernooi in die Europese reeks te haal.

Long (135, -9) is een hou voor Thorbjorn Olesen van Denemarke, Marcus Kinhult (Finland) en Richie Ramsay van Skotland, wat al drie op 136 houe (-8) geëindig het.

Rasmus Hojgaard (Denemarke) is alleen vyfde op 137 (-7).

Justin Walters (138, -6) is die beste geplaas van die Suid-Afrikaanse spelers, gevolg deur George Coetzee (141), Thriston Lawrence (142) en Daniel van Tonder, JC Ritchie en Brandon Stone, wat almal saam op 143 houe is.

Richard Sterne en Zander Lombard is saam met Bekker in die 51ste posisie op 144.

* In die Wells Fargo-toernooi wat in Potomac in Maryland beslis word, loop die Australiër Jason Day (130, -10) met drie houe voor in dié toernooi wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Day word gevolg deur die Amerikaner Max Homa op 133, met Denny McCarthy, Kurt Kitayama, James Hahn en Luke List (almal Amerika) saam op 134.

Suid-Afrika se Dawie van der Walt is op 139, met Dylan Fritelli 50ste op 140 houe.

Charl Schwartzel (141) en Branden Grace (146) kon nie die afsnypunt haal nie.

*In die Madrid-Ope vir vroue wat op die Jarama-Rae-baan beslis word, is Stacy-Lee Bregman (141) van Suid-Afrika in die 24 posisie ná die tweede ronde van dié toernooi in die Europese vroue-reeks.

Tiia Koivisto van Finland is op 134 (-10) voor, met Linn Grant (Swede) en Cayetane Fernandez van Spanje saam tweede op 135.

Lee-Anne Pace van Suid-Afrika is op 142.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.