Gholf: Norris bo ná Burmester uitsak

Shaun Norris (Argieffoto) (Foto: Gregory Shamus/Getty images/AFP)

Die deur het Sondag eers op die laaste drie putjies van die vierde ronde van die Steyn City-gholfkampioenskap vir Shaun Norris oopgeswaai toe hy dié toernooi met drie houe gewen het. Dit het gekom nadat Dean Burmester in die pylvak van die laaste ronde die kluts kwytgeraak het.

Norris het op 263 houe geëindig, wat 25 houe onder die baansyfer is nadat hy tellings van 64 62 67 en 70 op sy telkaart ingevul het.

Burmester was tweede op 266, (-22) nadat hy op die 16de putjie ʼn sethou vir voëltjie verbrou het en op die 17de putjie twee houe aan baansyfer afgestaan het om sy voorsprong prys te gee.

Norris, wat Sondagoggend met ʼn voorsprong van vier houe afgeslaan het, moes diep oor die eerste nege putjies delf, want byna niks het vir hom reg verloop nie.

Sy groot voorsprong het verdamp en ná sewe putjies was hy een hou agter, want hy het houe aan syfer op die 2de en 4de putjies afgestaan. Maar hy het hom reggeruk en met voëltjies op die 11de, 14de, 16de en 17de teruggeslaan wat aan hom die oorwinning besorg het.

Burmester het vier voëltjies en ʼn arend in sy ronde aangeteken, maar op die 3de en toe weer op die 17de (twee houe) aan syfer afgestaan, wat sy drome beëindig het.

Oliver Bekker (Suid-Afrika) en die jong Duitser Matti Schmid was saam derde op 269, met James Hart du Plessis, Joachim B Hansen (Denemarke) en Tappio Pulkkanen (Finland) saam vyfde op 270.

Dit was die 39-jarige Norris se derde oorwinning in die Sonskynreeks nadat hy in 2008 en weer in 2011 aan die wenkant was.

Boonop het sy bankbalans met R3,8 miljoen gegroei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.