Gholf: ‘Nou gaan ons braai,’ sê Jaco Ahlers

Argieffoto van Jaco Ahlers. (Foto: SA Open/Twitter)

Jaco Ahlers het Vrydagaand nie van sy normale patroon afgewyk nie.

Hy het gebraai voordat hy Saterdag op die Serengeti-gholflandgoed buite Kempton Park ʼn dubbele aanslag van ’n sterk wind wat op die baan gewaai het en dié van die 19-jarige Casey Jarvis in die derde ronde van die Toerkampioenskap afgeweer het.

Ahlers het 69 houe aangeteken en het sy voorsprong (200, -16) tot vyf houe bo dié van Jarvis gerek, wat 71 houe (205, -11) aangeteken het.

Hulle is gevolg deur Pieter Moolman (209, -7) met Keenan Davidse (210, -6) vyfde.

Hennie Otto, Hennie O’Kennedy, Ryan van Velzen, Jacques Blaauw en Jaco Prinsloo was almal saam sesde op 211 (-5).

Ahlers, wat reeds 18 jaar lank in die Sonskynreeks speel, het op -16 geëindig nadat hy sy ervaring en kennis van die baan ingespan en twee voëltjies oor die laaste drie putjies aangeteken het.

Volgens die Sonskynreeks was die sleutel tot sy sukses om kalm te bly, aangesien hy nie te goed afgeslaan het nie en sy setyster ook nie rooiwarm was nie

“Ek het die telbord so nou en dan dopgehou, maar net op my eie spel gekonsentreer. Ek sal dieselfde in die vierde ronde doen. Ek het al baie op dié baan gespeel en weet dat jy voëltjies kan aanteken. Jy moet net kalm bly,” het Ahlers aan die Sonskynreeks gesê.

Jarvis is die tweede week in ʼn ry in ʼn gunstige posisie om ʼn toernooi te wen nadat hy verlede week by Dainfern tweede in die Spelerskampioenskap was.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Zürich Classic-spantoernooi wat in New Orleans beslis word, loop Amerika se Wyndham Clark en Beau Hossler (190, -26) met een hou voor Sungjae Im (Korea) en Keith Mitchell van Amerika (191, -25) ná die derde ronde, met Nick Hardy en Davis Riley (albei Amerika), Taylor Moore en Matthew NeSmith (ook Amerika), en Vincent Norman en Mattias Schwab (Swede) saam vierde op 193 (-23).

Suid-Afrika se MJ Daffue en Erik van Rooyen is op 197 (-19) en Dylan Frittelli en sy Duitse spanmaat Matthias Schmid op 199 (-17).

* In die ISPS Handa-kampioenskap wat in Japan beslis word en deel is van die Europese DP World‑reeks, loop Aaron Cockerill van Kanada op -13 met een hou voor Lucas Herbert van Australië en David Law (Skotland) ná die derde ronde.

Hulle word in die gesamentlike vierde posisie gevolg deur nog ʼn Skot, Grant Forrest, en twee Japanners, Takumi Kanaya en Rikuya Hoshino.

Suid-Afrika se Deon Germishuys (-8) en Jacques Kruyswijk (-5) was ook stewig geplaas.

Ernie Els, wat vroeg Sondagoggend afgeslaan het, het die laaste ronde in 76 houe voltooi en op 283 (+6) geëindig.

* In die LIV-toernooi se derde en laaste ronde wat Sondagoggend in Adelaide, Australië, nog aan die gang was, was die Amerikaner Talor Gooch (-19) met twee houe voor Anirban Lahiri (-17), met Cameron Tringale (-16) en Suid-Afrika se Charl Schwartzel en Pat Perez (albei op -15) wat ook hul spiere gebult het.

Dean Burmester (-13), Louis Oosthuizen (-11) en Branden Grace (-4) was ook stewig geplaas en die Suid-Afrikaanse Stinger-span was in die spanafdeling tweede agter die 4 Aces‑span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.