Gholf: Oosthuizen sit ook by die hooftafel in Boston aan

(Foto: pixabay)

Dis nie aldag maklik om gholf te verduidelik nie.

Dit was die kommentaar van die Amerikaanse gholfspeler Dustin Johnson (191 houe) nadat hy laat Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) met ʼn voorsprong van vyf houe bo Harris English en Scottie Scheffler (albei 196) ná die derde ronde van die Northern Trust-toernooi op Boston TPC gaan slaap het.

Die tafel is gedek vir Johnson, wat onderskeidelik 67 en 60 houe in die eerste twee rondes aangeteken het en dit met 64 houe in die derde ronde opgevolg het, om aan die hoof daarvan aan te sit.

Maar dis gholf.

Hoe verduidelik jy dit, sê Johnson, dat dieselfde speler wat reeds 17 voëltjies en vier arende oor 54 putjies aangeteken het, slegs ʼn paar weke twee rondes van 80 aangeteken het?

Die baan pas die Suid-Afrikaner Louis Oosthuizen ook soos ʼn handskoen, want hy is op 198 houe in die vierde posisie nadat hy 68 houe in die derde ronde aangeteken het.

Oosthuizen het die eerste en twee rondes albei in 65 houe voltooi en spog ook met 17 voëltjies.

Ondanks sy 198 houe ná drie rondes is hy sewe houe agter Johnson.

Alles dui daarop dat Johnson sy 22ste oorwinning in die PGA-reeks sal behaal, maar moenie jou geld daarop verwed nie.

Sedert 2010 het vyf spelers in 29 toernooie met ʼn voorsprong van vyf of meer houe in die laaste ronde afgeslaan, maar verbrou.

Johnson was een van hulle, toe hy in 2017 in die WGC-Kampioenetoernooi sy voorsprong weggesmyt het.

Slegs twee weke gelede was hy ook voor ná die derde ronde van die Amerikaanse PGA net om toe te sien hoe Collin Morikawa die voorsprong by hom weggeruk het.

Maar dié keer is hy in beheer … al is dit gholf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.